Luister: Wat is die kleur van die seisoen?

Foto ter illustrasie. (Foto: Todd Trapani/Unsplash)

Alhoewel elke seisoen ʼn splinternuwe modekleur het, is dit wel baie belangrik dat jy kyk wat in jou ruimte werk.

Só sê Henck Conrey, aanbieder van kykNET se Vat jou goed en trek! en mede-eienaar van ʼn eiendomsagentskap, in die laaste aflewering van Maroela Media se podsendingreeks oor eiendom, dekor en huisopknappings.

In dié episode verduidelik Conrey wat die nuwe, gewildste kleur vir die 2024-seisoen is, en hoe om dié kleur op ʼn sinvolle, sakpaswyse in jou huis toe te pas.

“Die kleur vir 2024 is groen, maar nie ʼn uitspattige lemmetjie- of bottelgroen nie, meer soos ʼn olyfgroen. Iets wat meer natuurlik lyk, want die natuurlike elemente is nog steeds iets wat hoog in die mode is,” verduidelik hy.

“As ʼn mens kyk na só groen, dink ʼn mens dadelik aan die natuur. Dit is die natuurelemente wat jy steeds in jou ruimte wil inbring. Die groen bring ʼn gevoel van kalmte, en dit is altyd klassiek en iets waarmee jy wil speel. Dit gaan ook nie vinnig uit die mode gaan nie.”

Wanneer jy veral na jou slaapkamerruimte kyk, wat Conrey hierdie week onder die vergrootglas plaas, is ʼn olyfgroenkleur ideaal om ʼn soort rustigheid te skep. Hy raai mense verder aan om ander neutrale kleure by hul slaapkamers te inkorporeer, aangesien ʼn mens liefs by een uitspattige kleur per vertrek moet bly.

Dié kleure gaan ʼn snoesige en warm atmosfeer skep, iets wat heel gepas vir ʼn slaapkamer is, sê hy.

“As ʼn mens kyk na ander kleure, is ʼn donker blou nog altyd ʼn wenner. Dit is ʼn kleur wat ons nou al ʼn paar jaar in binnehuisversiering-giere, boeke en op opknappingsprogramme sien. Dit is asof die kleur glad nie uit die mode gaan nie.

“Dit is ʼn baie donker blou, en mens moet eintlik versigtig wees wanneer jy met baie donker kleure werk. Jy wil seker maak dat jou ruimte dit toelaat, wanneer jy donker blou kies, moet jy seker maak dat jou ruimte groot genoeg is. Kleure soos dit het die neiging om ʼn ruimte klein te laat vertoon.”

Alhoewel dit opwindend is om met nuwe kleure in jou huis te werk, glo Conrey steeds in eenvoud met ʼn kinkel.

“Dit gaan naderhand voel of die kleure jou wil insluk. Hou dit basies, hou een uitspattige kleur – of dit nou groen of blou is – en hou die ander mure en dekor neutraal.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.