Luister: Kortverhaal-dramareeks uit akteur se pen eersdaags te hoor

Marius Vermaak, Pietie Beyers, Stefan Vermaak, Luan Jacobs en Tiaan Kelderman neem op aan ‘Nimfberg’. (Foto: Marius Vermaak/Maroela Media)

Luan Jacobs, die jong akteur bekend vir sy rolle as Luke van Wyk in die gewilde kykNET-reeks Fynskrif en as die jong Jan-Paul Otto in die rolprent Ballade vir ʼn enkeling, se kortverhaal-jeugdramareeks is eersdaags op Maroela Media te hoor.

Die reeks bestaan uit 13 episodes wat nie op mekaar volg nie. Dit is ʼn reeks kortverhale getiteld Die kamer van verlate verhale. Hy vertel die idee vir die reeks het ontstaan toe die afsonderingstydperk weens die Covid-19-pandemie ingestel is.

“Ek het net besluit ek kan nie sit en niks doen nie, want dit is net te ellendig. Ek het toe ʼn paar vriende genader en gesê ons moet iets uitkry. Ons het met tweedehandse toerusting begin opneem en met ʼn goedkoop program geredigeer, totdat Maroela Media op die stories afgekom het. Ons kon met behulp van Maroela Media die reeks op ʼn professionele wyse opneem,” sê die 32-jarige Jacobs.

Hy vertel hy het 13 stories in ʼn maand voltooi. “Die titel vir die reeks het ontstaan nadat ek in my argiewe begin rondkrap het vir stories wat ek begin skryf het, maar net halfpad mee gekom het oor ek onverwags rolle elders in die land moes vertolk. So, met die inperking het ek tyd gehad om te skryf. Ek wou graag ligte vermaak ‘met hart’ aan mense verskaf. Ons kyk na die lewe met nuwe oë.”

Jacobs vertel hy hou baie van magiese realisme. Een van die stories, Nimfberg, handel juis oor twee ouens wat op die fontein van ewige jeug afkom. Pietie Beyers, Stefan Vermaak en Tiaan Kelderman is in dié storie te hoor.

Marius Vermaak, Su-an Müller-Marais, Luan Jacobs en Nina Coetzer neem op aan ‘Illanza’. (Foto: Marius Vermaak/Maroela Media)

Su-an Müller-Marais en Nina Coetzer is te hoor in die storie Illanza, wat handel oor twee ma’s langs ʼn rugbyveld wie se seuns dieselfde posisie in ʼn skolewedstryd speel. Estel Terblanché, Izel Bezuidenhout en Tiaan Slabbert is te hoor in die verhaal Charlize Theron, ʼn komiese verhaal oor ʼn vrou wat by ʼn restaurant vir dié Suid-Afrikaanse Hollywood-ster aangesien word.

Hy het sowat 30 vryskutakteurs genader om sy karakters te vertolk. Jacobs, wat self ʼn gesoute radiodrama-akteur en draaiboekskrywer is, bied opleiding en ervaring aan dié akteurs in ruil vir hulle betrokkenheid by die projek.

“Daar is so baie akteurs wat meer vertroud wil raak met hierdie medium. Ons werk hier met die verbeelding as ʼn spier en as jy jou oë toemaak, is ons daar – ons gooi ʼn paar byklanke by en jy is byvoorbeeld skielik op ʼn rugbyveld. Daar is soveel wat ʼn mens met ʼn radioverhaal kan doen. Die skaal van die stories kan ook soveel groter wees as in die geval van ʼn verhoog- of rolprentproduksie. Boonop is die omgewing baie veiliger.”

Jacobs vertel sy ervaring van radiodramas strek oor ʼn dekade. “Ek het nog altyd gehou van die kreatiewe aspek daarvan en dat jy [met radio] op enige gegewe tyd op enige plek kan wees.”

Hy het onder andere saam met Leon van Nierop gewerk aan die radiodrama Ratels en saam met Bettie Kemp aan die nuwe Maroela Media-radiodrama Briekaandraai.

“Met my ervaring bring ek wat ek kan na die skeppingsproses en ons kyk wat met my stories en my stem kan gebeur,” sê hy.

Die verhale sal teen middel September op Maroela Media asook op gemeenskapsradiostasies landwyd te hoor wees.

  • Luister na die volledige onderhoud met Luan Jacobs boaan hierdie berig.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.