‘Briekaandraai’: Nuwe radiodrama oor magstryd in die media

Die akteurs van ‘Briekaandraai’ het onder streng maatreëls tydens die inperking dié nuwe vervolgverhaal opgneem. Voor (v.l.n.r.) is Luan Jacobs, Ria Smit, Izel Bezuidenhout, Bettie Kemp en Helena Hettema. Agter is Marius Vermaak, Anton Dekker, Stefan Vermaak en Antowan Nöthling. (Foto: Leonie Bezuidenhout/Maroela Media)

Wat gebeur wanneer ʼn gevestigde koerant op ʼn plattelandse dorpie skielik moet meeding met ʼn varser, jonger radiostasie wat elke keer die nuus eerste aan die gemeenskap bied? En as die koerantredakteur boonop ʼn stoere chauvinis is wat glad nie hou van die wedywering tussen sy plaaslike koerant en die radiostasie nie?

Dít is die opwindende en aktuele storielyn van Maroela Media se splinternuwe radiovervolgverhaal, Briekaandraai, geskryf deur Leon van Nierop.

Die gesoute radiodramavervaardiger en regisseur, Bettie Kemp, is weer aan die stuur van sake. Sy skuif ook self agter die mikrofoon in as Elfra van Staden, adjunkredakteur van Windhond. Elfra is ʼn joernalis van formaat wat voorheen saam met Otto Marais, redakteur van Windhond, by ander groot koerante gewerk het, maar besluit het op ʼn rustiger bestaan op die platteland.

Gevestigde radiostemme soos Antowan Nöthling as Slaptjip Salamander, Ria Smit as tannie Dottie Duvenhage en Helena Hettema as Melissa Taljaard is saam met jonger talent soos dié van Luan Jacobs as Wessel Vorster, Izel Bezuidenhout as Corlia Lemmer en Stefan Vermaak as Wolfgang Jordaan in hierdie radiodrama te hoor.

Die drama is tydens die algehele afsonderingstydperk in die Maroela Media-ateljee opgeneem met Marius Vermaak as klankingenieur.

Die storie speel af op die fiktiewe dorpie Porseleinberg. “Die storie gaan oor die magstryd tussen die gedrukte media en radio as inligtingsbron op dié dorpie, waar die koerant tot onlangs nog ʼn groot rol in die gemeenskap gespeel het,” vertel Kemp.

“Dit is vir mense op Porseleinberg belangrik om in die koerant gesien te word. En wanneer die jonger garde ʼn radiostasie op die dorp begin, bots persoonlikhede en raak dinge interessant. Wanneer die misterieuse sakeman Wolfgang ook nog te voorskyn kom, begin die geld praat. En nie net het hy sy oog op die jonge Corlia van die radiostasie nie, maar ook op die ouer, meer ervare Elfra,” verklap sy.

Daar is ook ʼn subtema wat deur die Kolwyntjie-tuisnywerheid en Briekaandraai-gastehuis op die dorp lig werp op die kwessie van plattelandse dorpies wat in die huidige finansiële klimaat sukkel om te oorleef, voeg Kemp by.

Die rol van Otto word vertolk deur Anton Dekker, wat ook voorheen in die Maroela Media-radiodramas Staal Burger en Vuurvreters verskyn het.

Antowan Nöthling, Bettie Kemp en Ria Smit in aksie in die Maroela Media-ateljee. (Foto: Marius Vermaak/Maroela Media)

“Die draaiboek is goed geskryf en Bettie is ʼn gesoute regisseur met wie dit maklik is om saam te werk,” sê Dekker oor die ervaring van die opname van Briekaandraai.

“Dit is baie lekker om saam met Maroela Media stories vir ons mense te maak. Ek speel ook in ander tale, maar in Afrikaans is dit altyd vir my lekker, want dis mý mense met wie ek praat,” sê hy.

Die sangeres en aktrise Helena Hettema sê dit is vir haar lekker om die rol van Melissa te vertolk omdat sy die teenpool is van haarself.

“Sy is ʼn ware karakter, amper ʼn ‘karakatuur’. Sy het pers hare, middel sestigs, redelik snobisties met baie hoë standaarde en is ʼn baie belangrike vrou op die dorp. Sy besit Briekaandraai, die toonaangewende gastehuis op die dorp, waaroor sy baie passievol is. Ek weet nie of almal van haar hou nie, maar hulle het bepaald respek vir haar. Haar noemnaam is ‘Pruimedant’, want haar mond is altyd so suur getrek!” sê Hettema.

“Sy is nie dikwels baie kwesbaar nie, maar dan is daar oomblikke wanneer sy praat oor haar dogter wat in ʼn motorongeluk dood is dat jy skielik weer haar menslikheid besef.”

Sy vertel hoe sy as klein dogtertjie huis toe gehardloop het om na die radiostories op Springbok Radio te luister en sê sy koester sedertdien ʼn liefde vir radiodramas.

“Die persoon wat na die verhaal luister, skep ʼn beeld in sy of haar eie kop van hoe die karakter lyk. Dis wat dit so uniek maak, want elkeen het ʼn ander prentjie. ʼn Stem het die manier om jou in te trek en is verskriklik intiem en persoonlik,” sê sy.

As Slaptjip Salamander, ʼn platjie met ʼn skerp mond en blitsige sin vir humor wat in die hart van die dorp by die Kolwyntjie-tuisnywerheid werk, verskaf Antowan Nöthling die komiese verligting in die verhaal.

Die akteurs van ‘Briekaandraai’ tree aan om te begin speel. Van voor na agter is Marius Vermaak (klankingenieur), Izel Bezuidenhout, Luan Jacobs, Helena Hettema, Bettie Kemp, Ria Smit, Anton Dekker en Antowan Nöthling. (Foto: Marius Vermaak/Maroela Media)

“Kyk, by die tuisnywerheid skinder ons dat dit bars! Ons laat ons klante voor die deur wag voordat ons oopmaak sodat ons eers klaar kan skinder,” lag Nöthling oor sy rol in Briekaandraai.

“Slaptjip se sêgoed is legendaries. Niemand verlaat Kolwyntjie ooit sonder om te skater vir sy op die oog af skadelose doen en late nie. Maar ʼn neef wat onverwags saam met die familie opdaag, het ʼn  gevaarlike geheim wat dreig om die hele familie te laat ontspoor.”

Volgens Nöthling is die suiwerste draad wat deur radio loop die teater van die gedagtes. “Jy kan die karakters in jou kop bou soos jy daarvan hou. Elke mens gaan ʼn ander ervaring hê. Elkeen se Slaptjip gaan verskillend lyk.”

Luan Jacobs, wat ook tans die rol van Luke van Wyk in die kykNET-dramareeks Fynskrif vertolk, is Wessel Vorster, ʼn jong ambisieuse en energieke omroeper wat die radiostasie Briekaandraai FM op die been bring.

Met die hulp van ʼn ander jong omroeper, Corlia Lemmer, op wie hy verlief raak, maak hy vinnig vyande in die gemeenskap, maar hy is vasbeslote om ʼn sukses van die radiostasie te maak en Windhond se personeel af te rokkel.

“Om ʼn jongmens met verskriklike groot drome en baie ambisie te speel, is baie lekker. ʼn Mens kan met baie tempoverwisselinge met hom werk en wanneer hy donker raak, omdat sommige sake so seer en teer is, raak dinge baie interessant.”

Daar sal van Maandag, 20 Julie 2020 elke weeksdag ‘n nuwe episode beskikbaar wees om na te luister.  Luister die episodes net hier op Maroela Media of op een van die gemeenskapsradiostasies wat die drama uitsaai.

  • Luister na ‘n voorsmakie van ‘Briekaandraai’ boaan hierdie berig.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.