Daar is niks so lekker soos ʼn koppie boeretroos en beskuit nie.
(Uit: Eet saam, GKSA)
Lewer 2-2,5 kg
Bestanddele:
- 250 g (250 ml) margarien of botter
- 400 g (500 ml) suiker
- 1 liter melk
- 15 ml sout
- 25 ml olie
- 1,5 kg bruismeel
- 15 ml kremetart
Metode:
- Voorverhit die oond tot 180 °C.
- Smelt die margarien of botter en suiker saam. Voeg die melk en sout by. Laat effens afkoel en roer dan die olie by.
- Sif die bruismeel en kremetart in ʼn aparte bak.
- Voeg die melkmengsel by en meng goed met ʼn houtlepel (omtrent 10 minute).
- Maak bolletjies en pak in ʼn gesmeerde groot oond- of brood pan. Bak 30-45 minute.
- Breek die bolletjies oop terwyl dit warm is en droog dit oornag uit in ʼn koel oond by 100 °C uit. Laat die oonddeur op ʼn skrefie oopstaan.
- Bêre die beskuit in ʼn lugdigte houer.
Bron: Lekker & Vinnig
Uitgewer: Lapa
Baie dankie vir die resep, gaan dit beslis probeer.
Jene dit klink heerlik. Net ‘n vragie – is dit nodig om die beskuit deurnag op 100 grade te laat uitdroog of is daar dalk ‘n ander manier ook om dit te doen? Krag is duur en wil ek nie graag my oond deurnag laat werk nie.
Z, miskien het iemand anderste n boereplan vir jou, maar uit my ondervinding, boerbeskuite, semelbeskuit en al wat n beskuit is droog maar die beste uit op n lae temperatuur en vir omtrent 12 ure, as jy iets wil bak wat nie so lank uitdroog nie is biscotti beskuit die beste, ek dink dis omdat mens dit dunner sny, want mens bak dit soos n vet broodjie in n pan en sny dan dwars snitte, hulle droog ook op n lae temperatuur uit, maar slegs vir so 2 ure, hang af van jou oond, miskien kan dit n uur of wat langer wees, maar glad nie 10 na 12 ure nie. As ek haastig is bak ek eerder biscotti beskuit, mens bak en droog hulle op dieselfde dag, maar ander beskuit bak ek laat in die middag dat hulle uitdroog deur die aand….heerlik om met daai beskuitreuk in die huis wakker te word, geen pap dan vir ontbyt, beslis koffie en beskuit. Lekker bak en brou, Z.
Ons woon in die VSA en kom GLAD nie hier reg om rys-beskuit hier te bak nie – het die resep jare terug raakgeloop in die Voortrekker resepte boek en dis AL wat ons gebruik – ons gooi ook 15ml Anys saad by. Ons maak kleiner bolletjies of sny dunner, soos in vorige kommentaar en droog teen 100 vir 3 ure.
Ek stem saam met SNEL!