Ouma Antjie (Annetjie Lombaard) van Emalahleni se pampoenpoffertjies is altyd ʼn wenner op die feestyd-spyskaart. Groot was haar kleinseun, Josua (8), se teleurstelling toe hy vanjaar besef hy kan nie saam smul nie, omdat hy allergies is vir die eier in die poffertjies.
Soos dit ʼn ervare ouma betaam, het ouma Antjie blitsig ʼn plan beraam en haar resep aangepas om eiervry te wees. Die piesangs wat sy in die plek daarvan gebruik het, gee boonop ʼn lekker soet smakie aan die pampoenpoffers.
Bestanddele – pampoenpoffertjies:
750 ml gaar fyn pampoen
2 piesangs, fyngedruk
500 ml bruismeel
15 ml bakpoeier
5 ml sout
Bestanddele – sous:
500 ml suiker
250 ml water
125 ml melk
60 ml botter
10 ml mielieblom, aangemaak met melk
Metode:
Meng al die bestanddele. Braai lepelsvol in olie tot goudbruin. Dreineer op kombuispapier en pak die poffers in ʼn glasbak.
Kook al die stroopbestanddele saam tot die suiker opgelos is. Gooi dit oor die gaar poffertjies.