So op ʼn Vrydag het ons nie tyd vir ʼn ingewikkelde resep nie.
Lewer 8 porsies
Bestanddele
KORS
- 200 g (1 pakkie) Tennisbeskuitjies
- 80 ml (1½ k) Clover Mooi River-botter, gesmelt
VULSEL
- 385 g (1 blik) Clover-kondensmelk
- 125 ml (½ k) suurlemoensap
- 150 g (1 pak) malvalekkers
- 440 g (1 blik) pynappelblokkies, gedreineer
- 12 rooi glanskersies, gehalveer
- 375 ml (1½ k) Clover vars room
Metode
KORS
- Kap die Tennisbeskuitjies tot fyn in ’n voedselverwerker en roer die gesmelte botter by totdat dit aanmekaarkleef, maar nie te pap is nie.
- Druk die beskuitjiekrummels vas op die bodem van ’n tertbord met ’n deursnee van 22 cm.
VULSEL
- Roer die kondensmelk en suurlemoensap bymekaar in ’n mengbak.
- Knip die malvalekkers kleiner met ’n skêr wat in warm water gedoop is. Dit help dat die malvalekkers nie aan die skêr vassit nie.
- Skep die malvalekkers, pynappel en kersies by die kondensmelkmengsel en roer.
- Klits die room tot net styf en roer by die kondensmelkmengsel.
- Skep die mengsel in die tertkors en plaas in die yskas tot koud.
OPDIENING
- Sit voor in skywe.
Bron: Onthoukos
Uitgewer: Lapa
Dis heerlik as jy die kors vervang met vingerkoekies (Boudior’s) wat jy met die pynappelsap besprinkel en eerder fyn pynappel (crushed pineapple) gebruik as stukkies.
Jou vervanging van bestanddele klink regtig lekker,gaan dit probeer,maar oorspronklikke resep sal ook lekker wees
80ml botter kan nie 1 en 1/2 K wees nie?
Dis seker 1/3 koppie. Soveel gesmelte botter saam met een pakkie gekrummelde tennisbeskuitjies gaan ‘n papperasie afgee.
Hierdie is g`n “lui huisvrou tert” kyk in Knuppeldik is hy Malvalekker tert. Ek is nie `n “lui huisvrou” nie….maak hom al jare hy is altyd `n wenner. Ek gebruik tennis koekies sonder botter. As hy deurnag in die yskas staan, is hy baie lekker die volgende dag. Gebruik “chrush” pynappel is baie beter gooi net die stroop af. Indien hy te soet is kan daar fyn gekapte pekanneute bygevoeg word.
Ek stem Anke, maak myne ook so behalwe vir die pynappel – Is heerlik as hy oornag staan.
As jy malvalekkers moeiteloos wil kleiner sny sonder dat alles aanmekaar klou, gebruik ‘n nat skêr en hou jou vingers nat.
Mens kry ook (bv by Woolies) klein malvalekkertjies so mens hoef nie te sukkel met taai sker en hande om grotes op te sny nie. Ons het dit leer ken as die Oppenheimer tert omdat dit so ryk is! Ons het ook gekapte neute ingesit. Heerlik en bly ‘n gunsteling by almal wat dit proe. Ek gooi gewoonlik mengsel van groen, rooi en geel glanskersies in sommer vir die mooi.
Of koop die klein malva lekkers !
Ek gebruik yswater om sker in te “dip” en Orley whip in plaas van room (2 botteltjies en 1 blik kondensmelk) en 2 blikkies crushed pynappel. Gebruik ook nie botter nie, pak net tennisbeskuitjies en laat oornag staan. Bietjie vanielje essens… En lui se bas ;-)
Of gebruik die klein malvalekkertjies