Soorte resepte:

[Resep] Gekrummelde hoenderstukke

Foto: Lekker en Vinnig

Gekrummelde hoenderstukke. Foto: Lekker en Vinnig

Kyk net hoe heerlik lyk dié resep! Jy gaan maar ekstra moet maak – daar gaan vuisgeslaan word oor die boudjies …

Lewer 4-6 porsies

Bestanddele:

  • 125 ml suurlemoensap
  • 45 ml heuning
  • 1 knoffelhuisie, gekneus
  • varsgemaalde swartpeper
  • 1,5 kg hoenderstukke van jou keuse
  • 60 ml ongegeurde jogurt
  • 2,5 ml sout
  • 250 ml droë broodkrummels
  • 250 ml fyngerolde graanvlokkies
  • 25 ml gerasperde Parmesaankaas
  • selderyblare en suurlemoenwiggies, vir garnering

Metode:

  1. Meng die suurlemoensap, heuning, knoffel en swartpeper in ʼn glasbak. Voeg die hoenderstukke by en roer dit goed deur sodat dit deeglik met die marinade bedek word. Bedek die bak en verkoel dit minstens 2 uur of oornag.
  2. Voorverhit die oond tot 180 °C.
  3. Haal die hoenderstukke uit die marinade en dreineer dit goed. Druk dit met kombuispapier droog. Verf die stukke liggies met jogurt wat met sout gegeur is.
  4. Meng die broodkrummels, graanvlokkies en kaas in ʼn bak en bedek die hoenderstukke met die mengsel.
  5. Plaas dit op ʼn gesmeerde bakplaat en bak 45 minute of tot sag. Draai ná 20 minute om. Sit met ʼn groenslaai voor.

Bron: Lekker & Vinnig
Uitgewer: Lapa
Resep oorspronklik gepubliseer in Soet en Sout, Margie van Tonder.

Net soos ʼn pannekoek met die beste resep nog steeds kan flop, kan Maroela nie pa (of ma!) staan vir enige van die resepte wat jy self by die huis probeer nie. Elke koppie meel, bakpoeier, melk, eier of enige ander bestanddeel is dus in jou eie hande en Maroela Media kan nie enige verantwoordelikheid aanvaar vir komplimente (of klagtes) oor jou kookvernuf nie. -Red

Deel van: Vleis en seekos

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae