Afrika-Spele: SA stuur sterk span na Ghana

(Foto: African Games Accra 2023/Facebook)

Daar word hoë verwagtinge van die groot Suid-Afrikaanse span gekoester wat van 8 tot 23 Maart in Akkra, Ghana, aan die 13de Afrika-Spele deelneem.

Die Suid-Afrikaanse Sportkonfederasie en Olimpiese Komitee (Saskok) het ʼn groep van 226 atlete en 45 beamptes aangewys om die land te verteenwoordig.

Die hoop bestaan dat die span in die 18 sportsoorte waaraan hy gaan deelneem kan voortbou op die 86 medaljes (36 goud, 26 silwer en 24 brons) wat die span in 2019 in Marokko gewen het.

Dit is die agtste keer dat Suid-Afrika sedert hertoelating in 1995 aan die Afrika-Spele deelneem.

Daar is 41 atlete in die span, 36 hokkiespelers, 29 krieketspelers, 26 swemmers en tien fietsryers.

Ander sportsoorte waaraan daar deelgeneem word, sluit in pluimbal, stoei, tafeltennis, tennis en driekamp.

Daar is ʼn paar atlete wat in 2020 in die Suid-Afrikaanse span was wat aan die Olimpiese Spele in Tokio deelgeneem het, soos Michaela Whitebooi (judo) en die atlete Jo-Ane van Dyk en Antonio Alkana.

Die Afrika-Spele dien gereeld as klankbord vir atlete om op die voorgrond te tree, soos in 1995 in Harare en weer in 1999 toe Penny Heyns die ster van die Spele was.

Chad le Clos het nege medaljes in Maputo in 2011 en in Brazzaville in 2015 verower en Caster Semenya het goud in Brazzaville in 2015 gewen.

Vanjaar se Spele sou aanvanklik in die tweede helfte van 2023 gehou word, maar is weens onvoorsiene omstandighede uitgestel.

Van die bekendste deelnemers in die SA span sluit in Alkana, Friedrich Pretorius, Victor Hogan, Jo-Ane van Dyk, Marli Viljoen en Marione Fourie (atletiek), die swemmers Clayton Jimmie, Helgaard Muller en Caitlion de Lange, en die tennisspelers Phillip Henning, Kris van Wyk asook Bella en Zoë Kruger.

Bron: Saskok

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.