Amerikaanse tennisster se ma van SA

Tennys Sandgren saam met Roger Federer. (AP Photo/Andy Brownbill)

Een van die vrae in ’n vasvra-kompetisie kan seker wees: Wat het Roger Federer en Tennys Sandgren in gemeen?

Nou ja, buiten vir die feit dat tennis die gemene deler is, is al twee se ma’s Suid-Afrikaners wat nog lekker Afrikaans kan praat.

Sandgren is volgens die ATP-ranglys tans die 48ste beste speler ter wêreld en hy het verlede jaar die ASB Classic-toernooi in Nieu-Seeland gewen. Meer onlangs het hy tot die derde ronde van die Western & Southern Classic deurgedring waar hy teen die uiteindelike kampioen, Novak Djokovic, vasgeval het.

Een van sy grootste ondersteuners is ongetwyfeld sy ma Lia, wat toegesien het dat hy reeds op vyfjarige ouderdom op hul huis se baan in Tennessee aan sy vaardighede begin skaaf het.

Haar liefde vir tennis het egter op ’n Hoëveldse plaas hier in Suid-Afrika begin, toe sy nog ’n Lourens was.

“Die plase is baie ver uit mekaar versprei, dus het al die ‘grootmense’ oor naweke byeengekom om tennis – sommer so op ’n stofbaan – te speel. Almal het ten spyte van droogtes, mieliewurms en die runderpes hulself geniet. Ek het dus reeds van jongs af net positiewe herinneringe van tennis,” het sy vanuit Amerika aan Maroela Media gesê.

Tennys saam met Lia. Foto: Verskaf.

Ná haar skoolopleiding het sy musiek aan die Universiteit van Pretoria gaan studeer, maar tennis het haar groot liefde gebly.

“Ek het so gereeld as moontlik ’n tydjie afgeknip om klavier te oefen, hoewel ek veel eerder op die tennisbaan wou gewees het.”

Dit is in hierdie tydperk waar sy haar Amerikaanse man ontmoet het. David Sandgren was ’n sukkelende professionele tennisspeler wat in Johannesburg gewerk het.

Davey – haar oudste seun en óók ’n goeie tennisspeler – is in 1987 in Suid-Afrika gebore, maar hulle het in die daaropvolgende jaar na Amerika verhuis.

“Ons het al twee baie van Tennessee gehou met sy berge, pragtige woude, oorvloed riviere en mere en die gasvryheid van die mense.”

Hulle het ’n huis met ’n reuse-tennisbaan gehuur en hulle het dit kort ná Tennys se geboorte in 1991 gekoop.

Lia het Tennys self afgerig en hy het sommer vroeg reeds naam gemaak. Hy was in aksie by die junior afdelings van toernooie soos Wimbledon en die Franse Ope, terwyl hy sy junior loopbaan as die beste jong speler in Amerika afgesluit het.

Slegs twee maande nadat Tennys ’n professionele speler geword het, het sy pa gesterf.

“Dit het Tennys baie hard getref. Sy pa was een van die redes waarom hy sy universiteitsloopbaan kortgeknip het om ’n tennisloopbaan na te jaag. Hy kon vir ses maande nie ’n enkele wedstryd wen nie.”

Maar Tennys – wat na sy Sweedse oupagrootjie vernoem is – het egter weer stelselmatig sy pad in wêreldtennis oopgeveg. In 2017 het hy vir die eerste keer onder die top-100-spelers getel en met gesoute teenstanders soos Nick Kyrgios afgereken.

Die “Tennysbaan” by hul huis in Tennessee. Sandgren het onlangs die huis by sy ma oorgekoop. Foto: Verskaf.

“Ek is ongelooflik trots op sy deursettingsvermoë en sy besonderse wilskrag om nie net die beste speler te word wat hy moontlik kan wees nie, maar ook die beste mens. Ek is egter meer dankbaar vir God se ryke seën en genade; dat hy die vrugte van ure se harde werk, opofferings en uitdagings kan pluk.”

Kan hy Afrikaans praat of verstaan?

“Hy word egter soms lekker oor sy naam geterg: Tennys van Tennessee wat tennis speel!” vertel sy ma laggend. “Ek glo egter dat hy van sy naam hou en trots daarop is omdat dit sy oupagrootjie se nalatenskap is.

“Hul pa kon nie ’n woord Afrikaans praat nie, maar die seuns is tog te bekend met uitdrukkings soos ‘jou boekie is vol’ of ‘mannetjie, jou agterstewe gaan brand’!”

Volgens Lia het Tennys die gedwonge rustyd van die wêreldwye Covid-19-pandemie gebruik om sterker en fiksser as ooit vantevore te word en om van die kniebesering te herstel wat hy in die Australiese Ope opgedoen het. Hy het ongeveer vier uur per dag in ’n vriend se private gimnasium deurgebring.

Tennys Sandgren in aksie teen Roger Federer in die Australiese Ope. (AP Photo/Andy Brownbill)

Die 29-jarige speel in die openingsronde van die Amerikaanse Ope teen Roberto Bautista Agut; die einste Spanjaard teen wie Djokovic harde bene in die halfeindstryd van die Western & Southern-toernooi gekou het.

“Ek word ’n regte mamma-beer wanneer Tennys in aksie is en moet maar liefs alleen gelaat word wanneer hy speel. Die druk van individuele sport is soms baie kwaai vir ’n ouer om te hanteer!”

Die lewe van ’n professionele sportman kan onseker wees, maar Lia sê dat hul geloof hul gesin ongetwyfeld deur dik en dun dra.

“Tennys kry sy krag van sy geloof in ’n God wat die beste vir ons wil hê. Die Here laat alles reg uitwerk vir diegene wat vir Hom lief is en op Hom vertrou.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.