Beamptes kry ook hul kans in Wimbledon

Kevin Anderson (Foto: Wimbledon, Twitter)

Daar sal vanjaar vier Suid-Afrikaanse beamptes by Wimbledon in aksie wees wanneer 2019 se derde Grand Slam op 1 Julie in Engeland begin.

Die kwalifiserende rondes begin reeds Dinsdag.

Denerick October, Glen Campbell (albei van die Wes-Kaap), sowel as Sentraal-Gauteng se Tebogo Maleke sal lynbeamptes vir die kwalifiserende toernooi in Roehampton wees.

Iain Smith – een van SA se voorste tennisadministrateurs – is ’n hersienbeampte op Wimbledon. Die viermanskap vlieg reeds Sondag na Engeland.

Dit sal Smith se 11de Wimbledon-toernooi wees. Interessant genoeg was Wimbledon die eerste Grand Slam-toernooi waarby hy betrokke was en vanjaar se skouspel is sy 25ste Grand Slam.

“Tennis Suid-Afrika (TSA) is baie bevoorreg om ’n groep beamptes na dié tennisskouspel te stuur. Dit is ook die vyfde jaar dat ons beamptes deel is van die kwalifiserende toernooi,” het Smith gesê.

“Om na ’n Grand Slam uitgenooi te word, is die hoogtepunt van enige speler se loopbaan. Dieselfde geld ook beamptes. Dit sal Denerick se eerste proesel van dié toernooi wees, terwyl dit Tebogo en Glen se tweede en derde toernooi onderskeidelik sal wees.”

Suid-Afrika behoort ook drie spelers op die baan te stoot met Kevin Anderson, Lloyd Harris en Raven Klaasen wat die nasionale vlag in Londen gaan swaai

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.