Beers en Blevins trap na skofsukses

Die Absa Cape Epic is een van die gewildste inskrywings op die internasionale bergfietskalender. Foto: Twitter.

Matthew Beers en Christoper Blevins van die Toyoto-Specialized-NinetyOne-span het die tweede skof van die Absa Cape Epic gewen.

Beers, ʼn 28-jarige Suid-Afrikaner, het saam met sy Amerikaanse spanmaat die skof van 116 km in ʼn tyd van 4:20:31 kafgetrap.

Die Switserse duo van Nino Schurter en Andri Frischknecht was kort op hul hakke, gevolg deur Georg Egger en Lukas Baum (verlede jaar se wenspan).

Ná twee skofte is Schurter en Frischknecht die algehele voorlopers, gevolg deur Egger en Baum.

In die vroueafdeling het die sterre van die Kaapstad-fietstoer, Kim le Court en Vera Looser, die septer geswaai.

Die twee het die skof in ʼn tyd van 5:28:42 gewen, terwyl daar ʼn titaniese stryd om die tweede en derde plek was.

Sofia Gomez Villafane en Katerina Nash was tweede by die eindstreep; net ʼn paar millisekondes voor Suid-Afrika se Amy Wakefield en Candice Lill.

Deelnemers pak môre die derde skof van 100 km tussen Hermanus en die Oak Valley-landgoed aan.

  • Skofuitslae:

Mans:

  1. Matthew Beers en Christoper Blevins (Toyota-Specialized-NinetyOne): 4:20:31
  2. Nino Schurter en Andri Frischknecht (Scott-Sram MTB Racing): 4:20:46
  3. Georg Egger en Lukas Baum (Orbea x Leatt x Speed Company): 4:23:05

Vroue:

  1. Kim le Court en Vera Looser (Efficient Infiniti Insure): 5:28:42
  2. Sofia Gomez Villafane en Katerina Nash (NinetyOne-Songo-Specialized): 5:28:47,1
  3. Amy Wakefield en Candice Lill (e-FORT.net: SeattleCoffeeCo): 5:28:47,8

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.