Bestendige Brad vyfde in Assen

Suid-Afrika se Brad Binder. (Foto: JOSE JORDAN / AFP)

Suid-Afrika se bestendige Brad Binder (Red Bull KTM) kruip al hoe nader aan nog ʼn podiumplek in vanjaar se MotoGP nadat hy Sondag in Assen vyfde in die Nederlandse Grand Prix geëindig het.

Die wedren is deur die Italianer Francesco Bagnaia (Ducati) gewen, gevolg deur die groentjie Marco Bezzecchi (Ducati), Maverick Viñales (Aprilia), Aleix Espargaro (Aprilia), Binder en Jack Miller (Ducati).

Dit was Bagnaia se sewende oorwinning in MotoGP.

Binder het tiende weggespring en het in die eerste rondte reeds tot sewende opgeskuif.

Binder het verbeter tot vyfde en het in die laaste draai vir Miller verbygesteek, maar ongelukkig het Espargaro al sy vernuf ingespan om Binder en Miller verby te steek.

Espargaro het skitterend gejaag totdat Fabio Quartararo (Yamaha), die huidige wêreldkampioen en voorloper in vanjaar se reeks, se fiets met 22 rondtes oor onder hom uitgegly het en hy Espargaro getref het.

Espargaro het op die gruis beland en meer as 20 sekondes verloor voordat hy die Grand Prix in die 14de posisie hervat het.

Quartararo, wat ook in die gruis beland het, het baie meer tyd ingeboet en probeer voortjaag, maar met 15 rondtes oor het hy weer geval en oor sy fiets se handvatsels hoog deur die lug getrek.

Hy het kruppel-kruppel opgestaan en na die kuipe voortgesukkel.

Hy is steeds die voorloper op vanjaar se puntelys met 172 punte, maar sy voorsprong bo Espargaro het tot slegs 21 punte gekrimp.

Espargaro het nou 151 punte, gevolg deur Johann Zarco (114), Bagnaia (106) en Binder (93).

Binder se jonger broer Darryn het vroeg in die ren geval en kon dit nie voltooi nie.

Die volgende wedren is die Britse MotoGP op 7 Augustus op Silverstone.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.