Binder wil verjaardag met oorwinning vier

Brad Binder (Foto: Jure Makovec/AFP)

Brad Binder het vroeër die maand 28 geword en die Suid-Afrikaner is van plan om sy verjaardagvieringe met ʼn hoogtepunt by die Oostenrykse MotoGP af te sluit.

Daar is druk op die gewilde KTM-ryer om by die Oostenrykse vervaardiger se plaaslike baan te presteer.

Terwyl die wêreldkampioen, Francesco Bagnaia, sy greep op die algehele voorsprong in die laaste wedren op Silverstone twee weke gelede verstewig het, het Binder die derde plek behaal om tot die algehele vierde plek te beweeg op die punteleer. Hy is die voorste nie-Ducati-ryer op die punteleer.

Binder keer terug na die Red Bull Ring, waar hy in 2021 gewen het, en meen dit is tyd vir sy derde MotoGP-oorwinning.

“Dit was ’n wonderlike gevoel om hier te wen,” het Binder gesê en bygevoeg hy gaan die naweek met baie selfvertroue in. “Hierdie is die naaste wat ek aan ʼn grand prix-tuisoorwinning gaan hê. Dis KTM se huis.

“Die fiets werk die afgelope tyd besonder goed. Ek is gereed om dit ’n kans te gee en te kyk hoe hierdie naweek verloop. Dit is gaaf om twee blitsrenne te wen, maar dit is ’n rukkie sedert ek op ’n Sondag gewen het. Ek moet net ’n paar klein veranderinge aanbring. Ons is nie ver weg [van ʼn oorwinning] nie.”

Binder het vroeër die maand op die Silverstone-renbaan tydens die Britse MotoGP derde geëindig al het hy tiende weggespring nadat hy weer nie ʼn vinnige kwalifiseringstyd kon opstel nie. Hy was negende in die blitsren en het toe sy vierde plek op die kampioenskap-puntelys ingeboet, maar ná sy derde plek het hy weer tot vierde (131 punte) agter Bagnaia (214), Jorge Martin (173) en Marco Bezzecchi (167) opgeskuif.

Die Oostenrykse Grand Prix vind op 19 Augustus (blitsren) en 20 Augustus (GP) op die Red Bull Ring in Spielberg plaas.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.