Chad deur na eindronde

Chad le Clos. (Foto: Oli SCARFF/AFP)

Chad le Clos het Dinsdag sy halfeindronde in die 200 m-vlinderslag by die Olimpiese Spele gewen om na die eindronde deur te dring.

Le Clos het Maandag vyfde in sy uitdun geëindig en was algeheel 16de om net-net vir die halfeindronde te kwalifiseer.

Die 29-jarige Suid-Afrikaner het Dinsdag in sy halfeindronde ʼn tyd van 1:55.06 aangeteken om derde vinnigste vir Woensdagoggend se eindronde (03:49 SA tyd) te kwalifiseer.

Die Hongaarse wêreldrekordhouer Kristof Milak is die gunsteling om met die goue medalje weg te swem. Hy het met ʼn tyd van 1:52.22 vir die eindronde gekwalifiseer terwyl Brasilië se Leonardo de Deus se 1:54.97 beteken hy het die tweede vinnigste tyd aangeteken.

Milak het in 2019 die legendariese Michael Phelps se 200 m-vlinderslag-wêreldrekord verbeter toe hy net 19 jaar oud was.

Intussen het die Australiese wêreldrekordhouer, Kaylee McKeown, haar Amerikaanse aartsvyand Regan Smith in die 100 m-rugslag laat les opsê om die goue medalje te verower.

McKeown, wat verlede maand Smith se wêreldrekord verpletter het, het die item in 57.47 sekondes gewen en sodoende ʼn nuwe Olimpiese rekord opgestel. Smith moes met die derde plek tevrede wees nadat Kylie Masse van Kanada die silwer medalje opgeëis het.

Lilly King, die Amerikaanse wêreldrekordhouer in die 100 m-borsslag, moes met die brons medalje tevrede wees nadat haar landgenoot Lydia Jacoby (17) goud gewen het. Suid-Afrika se Tatjana Schoenmaker het die silwer medalje gewen.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Elmarie ·

Ampers nie gemaak maar baie geluk, jy het gewys jy HET dit nog in jou en terugbaklei! Derde beste tyd vir finals, komaan, nog so bietjie harder werk en jy KAN. Trots op jou!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.