Charles kan ʼn grote word

Ferrari se Charles Leclerc. Foto: Twitter.

Hy was dalk teen die einde van die seisoen skaars sigbaar in Max Verstappen se truspieëltjie, maar Charles Leclerc het gewys dat hy oor genoeg skietgoed beskik om die ander renjaers op hul tone te hou.

Die Monaco-boorling het in 2022 twee van die eerste drie wedrenne gewen voordat ʼn onbetroubare motor, ʼn rits strategieblapse en ʼn paar oordeelsfoute sy seisoen in die wiele gery het.

Tog meen Felipe Massa dat Leclerc met die bestes kan saamgesels. Hy is ongetwyfeld Ferrari se sterkste aanvalswapen in die wedloop na F1-glorie, terwyl hy die rol van ʼn Verstappen of ʼn Lewis Hamilton in sy span kan vertolk.

“ʼn Span se sukses hang inderdaad van ʼn betroubare motor en goeie samewerking af, maar daar is so baie wat op ʼn renjaer se skouers rus. Ná vyf of ses wedrenne weet spanbase presies wie hul sterkste renjaer is,” het Massa gesê.

En verlede jaar – ná daardie eerste drie wedrenne – het almal geweet dat Leclerc die septer vir Ferrari swaai.

“Ek moet erken; Carlos Sainz was die beste in sy eerste jaar saam met die span maar toe het die renmotor gesukkel om by die res kers vas te hou. Toe die motor in 2022 op alle suiers gevuur het, was Charles beslis die sterkste.”

Mattia Binotto het verlede jaar erken dat daar nie onderskeid tussen Leclerc en Sainz getref word nie en dit wil voorkom of Fred Vasseur (Ferrari se nuwe spanbaas) ook nie uit die staanspoor ʼn eerstekeusebestuur sal aanwys nie.

“Die doelwit is dat Ferrari wedrenne moet wen, maar as ek egter genoop word om só ’n besluit te neem sal ek nie skroom om dit te maak nie,” het Vasseur gesê.

ʼn Besige F1-jaar begin op 5 Maart in Bahrein en motorsportliefhebbers kan na 23 wedrenne uitsien.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.