Dinge raak weer epies in die Kaap

Die Absa Cape Epic begin hierdie naweek in die Kaap. Foto: Twitter.

Die Absa Cape Epic is beslis een van die hoogtepunte op die internasionale bergfietskalender en deelnemers kom van heinde en verre om hul fietstrapstaal in die Kaap te wys.

Die aksie begin Sondag oudergewoonte met ʼn proloog en 1 450 deelnemers gaan daarna sake oor sewe skofte en amper 700 km uitspook.

Verlede jaar se wennners, Lukas Baum en Georg Egger, sal terug wees om hul titel te verdedig. Hulle kan egter kwaai teenstand van Andreas Seewald en Martin Stosek verwag wat verlede jaar vir ʼn ruk die algehele voorlopers was.

In die vroueafdeling is Sofia Gomez Villafane weer eens die gunsteling. Sy het verlede jaar se avontuur gewen en sy sal ʼn gedugte span met Katerina Nash vorm.

Die 45-jarige Nash het is al ʼn paar keer as die Tsjeggiese nasionale kampioen gekroon, terwyl sy ook al amok by die UCI-wêreldkampioenskap gemaak het.

Kim le Court de Billot sal op haar sukses in die Kaapstad-fietstoer wil voortbou wanneer sy saam met Vera Looser hul padfietse vir bergfietse verruil.

Nodeloos om te sê sal die roete vir splinternuwe uitdagings sorg en vanjaar sal die aksie by die Meerendal-wynlandgoed naby Durbanville begin, waarna daar onder meer ook draaie by Hermanus en die Oak Valley-landgoed gemaak word.

Die eindpunt is by die spoggerige Val de Vie in die Paarl-omgewing.

Fietsryliefhebbers kan die aksie op die amptelike Epic Series-app (beskikbaar op Google Play) volg, terwyl SuperSport die proloog saam met die sesde en sewende skofte regstreeks sal uitsaai.

Daar sal ook daaglikse hoogtepunte op die sportbetaalkanaal (vanaf 20:30) wees.

  • Die skoftewedren word van 19 tot 26 Maart aangebied.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

gpsa ·

Sterkte aan almal wie gaan deelneem. Een van die groot uitdagings in die MTB wereld.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.