Dit is Gorimbo teen Karam in Pretoria!

Zimbabwe se Themba Gorimbo sal teen Lyle Karam veg. Foto: Twitter.

Adrenalien-sportverslaafdes kan solank nader begin staan vir die eerste EFC-aand van 2020 in Pretoria. En Zimbabwe se Themba Gorimbo sal sy weltergewig-titel teen die jong wensensasie, Lyle Karam, op die spel plaas.

Gorimbo was destyds die eerste Zimbabwiër om ’n MMA-wêreldkampioen te wees en hy was nog nooit iemand wat teruggestaan het in ’n geveg nie. Tog het hy nog nooit sy titel verdedig nie en Karam sal Saterdag beslis kwaai teenstand bied.

Karam veg deesdae vanuit Melbourne in Australië en spog met ’n indrukwekkende wenrekord – hy is onoorwonne ná ses gevegte – en hy is ongetwyfeld die top-aanspraakmaker om die titel by Gorimbo weg te neem.

Dan sal een van die gewilde Du Plessis-broers weer voor hul tuisskare in aksie wees.

Die lokplakkaat vir die komende EFC-aand in Pretoria. Foto: Verskaf.

Nadat Dricus verlede jaar met Brendan Lesar in ’n middelgewig-titelgeveg klaargespeel het, sal sy ouer broer Niel ook sy stempel in Pretoria wil afdruk.

“Dit was een van die grootste oomblikke in my loopbaan om voor my mense in Pretoria te kon baklei,” het Dricus destyds aan Maroela Media gesê.

Nou sal die ouer Du Plessis vir die meer ervare Stefan Pretorius in ʼn ligswaargewig-geveg aanvat en hy sal die kans met albei hande wil aangryp om uit sy broer se skaduwee te beweeg.

Daar sal altesaam 12 gevegte die aand wees en kaartjies is by computicket.com beskikbaar.

  • Datum en plek: 14 Maart (Saterdag) by Time Square in Menlyn, Pretoria.
  • Voorgevegte:

Kena teen Henning, Saaiman teen Ngema, Kalambay teen Oosthuizen, Lokolo teen Botha, Kamba teen Bandu, Smith teen Hume en Swart teen Mchava.

  • Hoofgevegte:

Gorimbo teen Karam, Kanyeba teen Botha, Du Plessis teen Pretorius, Mukishi teen Kayambala en De Beer teen Manengela.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.