‘Dit maak baie seer’

Rafael Nadal sal ook die Italiaanse Ope in Rome misloop. (Foto: Matthew Stockman/Getty Images/AFP)

Rafael Nadal het hom ook aan die Italiaanse Ope in Rome onttrek.

Die Spaanse tennisster is nou in ʼn wedloop teen tyd gewikkel om gereed te wees vir sy geliefde Franse Ope wat oor ʼn paar weke in Parys begin.

ʼn Heupbesering hou die 36-jarige speler al sedert die Australiese Ope langs die baan en hy kon vanjaar nog net in vier wedstryde speel.

Hoewel hy nou ʼn verbetering sien, oefen hy al maande lank nie soos wat hy graag wil nie.

“Dit gaan tyd neem om by dinge aan te pas en ek het geen ander keuse as om dit te aanvaar en aan te hou werk nie. Dit maak baie seer om nog ʼn toernooi mis te loop wat al ʼn beduidende invloed op my loopbaan gehad het,” het Nadal gesê.

Nadal vier sy oorwinning in die eindstryd van die Italiaanse Ope. (Foto: Filippo Monteforte/AFP.)

Die Spanjaard het reeds tien keer die silwerware in Rome omhoog gehou en hy het in 2021 vir Novak Djokovic met 7-5, 1-6 en 6-3 in die eindstryd geklop.

Tog glo Carlos Alcaraz dat sy landgenoot oor die vermoë beskik om op alle suiers op Roland-Garros te vuur. ʼn Merkwaardige 15de titel wink immers in Parys.

“Selfs al het hy laas in Australië gespeel, sal dit moeilik wees om ʼn man te stuit wat die toernooi reeds 14 keer gewen het,” het Carlos Alcaraz gesê kort nadat hy met Alexander Zverev in Madrid klaargespeel het.

Die jong Spanjaard meen egter dat dit ook ʼn taai uitdaging vir Nadal kan wees.

“Tennis is ʼn sport waar ritme van groot belang is. Maar Rafa is Rafa en al is hy nie wedstrydfiks nie, kan hy steeds ongelooflike tennis opdis.

“Ek en die ganse tenniswêreld wil ʼn gesonde en fikse Rafael Nadal sien.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.