Djokovic saam met Federer, Nadal in Laverbeker-span

Novak Djokovic en Roger Federer tydens ’n seremonie op Wimbledon. Foto: Adrian Dennis/AFP.

Europa sal ongetwyfeld op ’n gedugte groep tennisspelers kan reken wanneer dié span in September in die Laverbeker-toernooi ’n Wêreldspan sal aanvat.

Sterre soos Roger Federer, Rafael Nadal en Andy Murray het reeds hul deelname bevestig en nou het Novak Djokovic ook aangedui dat hy deel van Bjorn Borg so groep van elite spelers sal wees.

Dit is die eerste keer in die toernooi se geskiedenis dat tennis se “Groot Vier” terselfdertyd vir die Europa-span in aksie sal wees.

“Die Laverbeker is die enigste toernooi waar jy saam met al jou grootste teenstanders in een span kan speel. Dit is ’n opwindende konsep; nie net vir ons spelers nie, maar ook vir baie tennisliefhebbers,” het Djokovic gesê.

Die Serwiese ster sien ook uit om weer in Londen se O2-arena af te slaan.

“Ons speel al vir tien jaar ATP-eindtoernooiwedstryde daar en dit is altyd ’n plesier om daar in aksie te wees.

Intussen het John McEnroe, kaptein van die Wêreldspan, ook drie spelers van sy span aangekondig. Felix Auger-Aliassime, Diego Schwartzman en Taylor Fritz sal sake teen Djokovic en kie moet uitspook.

Federer het in Februarie aangedui dat hy bereid is om weer kragte met Nadal saam te snoer.

“Rafa is nie net ’n ongelooflike mens nie, maar terselfdertyd ook vir tennisliefhebbers wêreldwyd ’n inspirasie. Hy het ná verlede jaar se toernooi in Boston vir my ’n boodskap gestuur en gevra of ons dubbels in Londen sal speel. Ek is beslis gerat vir “Fedal” se terugkeer!” het Federer destyds gesê.

Op sy beurt sien Nadal daarna uit om weer in dieselfde span as die Switserse meester te wees.

Die twee spelers het in 2017 kragte saamgesnoer toe die Europeërs met die louere in die 2017-weergawe van die Laverbeker weggestap het; om hulle weer saam op die tennisbaan in Engeland te sien, sal ongetwyfeld die kersie op die koek wees.

“Roger speel ’n baie belangrike rol in my tennisloopbaan; hy is een van my grootste teenstanders asook ’n wonderlike vriend. Om in dié stadium van ons loopbane weer saam dubbels te speel, sal ’n ongelooflike ervaring vir ons al twee wees.”

  • Die Laverbeker vind van 23 tot 25 September in Londen se O2-arena plaas.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

piet ·

Federer is so ‘n nice ou hy kan nie eers kwaad of aggressief lyk op ‘n foto nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.