Drie op ʼn streep vir Daniil

Daniil Medvedev en Andrey Rublev in Dubai. Foto: Twitter.

Daniil Medvedev het nog ʼn ATP-titel ingeoes toe hy met die louere in Dubai weggestap het. Hy het ook in Rotterdam en in Doha die septer geswaai.

Die Russiese speler het nou met sy landgenoot Andrey Rublev met 6-2 en 6-2 om sy 18de titel op die ATP-toer te wen.

“Ek is baie in my skik want in die aanloop tot die seisoen het dinge glad nie volgens plan verloop nie en wanneer ʼn mens wedstryde verloor begin jy in jouself te twyfel. Nou voel ek baie beter en ek is tevrede met vertoning van die afgelope drie weke,” het Medvedev gesê.

Hy het ook in die halfeindstryd van die Dubai-toernooi met Novak Djokovic klaargespeel. Die eindtelling in daardie wedstryd was 6-4 en 6-4.

Sy goeie vertonings beteken dat hy ook ʼn ranglyssprong of twee sal maak en hy behoort die sesde plek op die nuwe ATP-ranglys te beklee.

Die 27-jarige Moskou-boorling het verlede jaar die 250ste wedstryd van sy loopbaan gewen, maar hy was vir ʼn gedeelte van die seisoen lángs die baan nadat hy ʼn mantevliesbreuk-operasie ondergaan het.

Hy was ook nie toegelaat om op Wimbledon af te slaan nie omdat organiseerders van die spoggerige grasbaantoernooi ’n stokkie voor die deelname van Russiese en Belarussiese spelers gesteek het.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Treurwilger ·

Puik prestasie!
Medvedev en Alcaraz die vólgende grotes wat sake gaan uitspook.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.