‘Ek gaan op die baan wees’ – Rafa

Rafael Nadal laat waai op die oefenbaan in Barcelona. (Foto: X/Barcelona-ope)

Rafael Nadal het laas op 4 Januarie ʼn mededingende tenniswedstryd gespeel toe hy teen Jason Kubler in Brisbane verloor het.

Sedertdien het die beseringspook weer amok gemaak en hy het onder meer groot toernooie in die VSA misgeloop, terwyl hy ook nie in Monte Carlo kon afslaan nie.

Maar die organiseerders van die Barcelona-ope het foto’s van die voormalige wêreldnommereenspeler op die oefenbaan gedeel en hy gaan vanmiddag teen Italië se Flavio Cobolli te staan kom.

“Ek is baie bly om hier te wees en ek het baie goeie herinneringe van die toernooi,” het Nadal gesê.

Die 37-jarige speler het reeds 12 keer die silwerware in Barcelona omhoog gehou, maar hy erken dat hy vir eers net die terugkeer-waters wil toets; ʼn eindstrydvertoning is nog nie op sy prioriteitslys nie.

“Dit was ʼn moeilike paar jaar. Ek het ʼn groot heupoperasie ondergaan en dit het ʼn jaar geneem om behoorlik te herstel. ʼn Mens se lyf wil net nie meer mooi saamspeel nie en dit het my terugkeer gekniehalter. Dit was hartseer om sekere toernooie mis te loop, maar ek kon niks daaromtrent doen nie,” het Nadal gesê.

Die wenner van 22 Grand Slam-titels meen dit is ʼn voorreg om in die Spaanse stad af te slaan.

“Ek beskou dít as my laaste groot tennisjaar en ek wil elke liewe oomblik geniet. Dit maak dinge net soveel meer spesiaal. Ek is realisties oor dinge en ek is tans net dankbaar om te kan speel. Ek gaan op die baan wees.”

Die Franse Ope is om die draai en Nadal sal alles in die stryd werp om in sy geliefde Grand Slam-toernooi te speel.

Die Spaanse matador het reeds 14 keer met die louere in Parys weggestap en hy het al vantevore gesê die toernooi beteken vir hom baie.

“Vir my is die Franse Ope die beste toernooi in die hele wêreld. Van die organiseerders tot die baljoggies laat ʼn mens tuis voel.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.