Engelse rugbyster Billy Vunipola agter tralies ná ‘voorval’

Billy Vunipola tydens ‘n Wêreldbekerwedstryd teen Suid-Afrika verlede jaar. (Foto: Franck Fife/AFP)

Billy Vunipola, oudvoorspeler van Engeland en die rugbyklub Saracens, is met ʼn skoktoestel in bedwang gebring en toe in hegtenis geneem ná ʼn beweerde gewelddadige voorval in Majorka, het Spaanse media Maandag berig.

Saracens sê hulle is bewus van ʼn voorval waarby hul speler betrokke was en sal dit intern hanteer.

Die Majorka-gesetelde koerant Ultima Hora het berig polisiebeamptes het die 31-jarige Vunipola twee keer met ʼn Taser-skoktoestel geskiet nadat hulle na ʼn kroeg op die eiland se hoofstad, Palma, ontbied is.

Luidens die berig het Vunipola in ʼn stadium sy hemp uitgetrek en verbygangers gekonfronteer. Dit het uiteindelik die ingryping van agt polisiebeamptes geverg om hom tot bedaring te bring en te boei.

Hy is daarna na ʼn hospitaal geneem waar hy luidens die berig verdoof moes word.

Die koerant se webwerf het ʼn video van ʼn geboeide Vunipola gedeel, terwyl hy saam met ander mans uit ʼn polisievoertuig gebring en na die hof begelei word.

ʼn Verklaring van Saracens op sosiale media het gelui dat die klub nie enige verdere kommentaar gaan lewer tot sy interne ondersoek na die gebeure afgehandel is nie.

Vunipola sal Saracens na verwagting aan die einde van die seisoen verlaat. Daar is voorheen bespiegel dat hy hom moontlik in Frankryk gaan vestig, hoewel daar geen bevestiging was nie.

Hy het 75 wedstryde vir Engeland gespeel en het sy toetsdebuut in 2013 teen Argentinië gemaak.

Vunipola vorm nie tans deel van die Engelse span nie.

Hy het Vrydag in die tweede helfte vir Saracens uitgedraf in die klub se oorwinning van 15-12 teen Bath. Die klub speel eers weer op 11 Mei hul volgende wedstryd.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

kragaap ·

Dit was daai semi final teen die bokke laas jaar. Permanente skade aangerig ….

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.