Federer, Nadal binnekort in Kaapstad in aksie

Rafael Nadal van Spanje (regs) en Switzerland se Roger Federer (AP Photo/Pavel Golovkin).

Die datum, tyd en plek is dalk nog nie gefinaliseer nie, maar Roger Federer en Rafael Nadal beplan om volgende jaar ’n vertoonwedstryd in Kaapstad te speel.

Die 37-jarige Federer, wie se ma Lynette ’n Suid-Afrikaner is, het dié nuus in ’n onlangse onderhoud met die glanstydskrif Vogue bekendgemaak.

“Hy is ongelooflik gefokus wanneer hy op die baan is, maar hy is terselfdertyd ook baie eerlik sodra hy van die baan stap. Dan het hy ook ’n hart van goud,” het Federer gesê toe hy oor Nadal gepols is.

Die vertoonwedstryd sal ten bate van sy liefdadigheidsorganisasie – die Roger Federer Foundation (RFF) wees.

“Rafael is ook bereid om my van hulp te wees met my liefdadigheidswerk. Ek sien baie daarna uit – dankie Rafa! Ons gaan poog om die bywoningsrekord vir ’n tenniswedstryd in Kaapstad te breek.”

  • Die Roger Federer Foundation streef na gehalte-onderrig wêreldwyd en het al verskeie projekte in veral die Oos-Kaap van stapel gestuur.
  • Federer en Nadal het al 39 keer teen mekaar kragte gemeet, met die Spaanse speler wat 24 van dié wedstryde gewen het.
  • Federer poog tans om sy negende Wimbledon-titel in te palm en is die derde voorste speler ter wêreld.
  • Die 33-jarige Nadal is tans die wêreld se nommer twee‑speler.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.