Fred gee Ollie ʼn klop op die skouer

Ferrari se Oliver Bearman. (Foto: Guiseppe Cacace/AFP)

Fred Vasseur meen dat Oliver Bearman ongetwyfeld oor ys in sy are beskik nadat die 18-jarige Engelsman op kort kennisgewing punte vir Ferrari verdien het.

Bearman moes op die laaste nippertjie in Saoedi-Arabië sy valhelm nadertrek toe hy hoor dat hy vir die olike Carlos Sainz moet instaan.

Hy het hom egter uitstekend van sy taak gekwyt om die Grand Prix in die sewende plek te voltooi.

“Ollie was uit die staanspoor die kalmte vanself. As Ferrari se jongste F1-renjaer nóg was hy onder baie druk, maar hy het nie toegelaat dat dit hom onderkry nie,” het die Ferrari-spanbaas gesê.

Volgens Vasseur het Bearman bitter min foute op die renbaan gemaak; selfs al was hy nie deel van die aanvanklike oefenlopie-aksie nie.

“Hy kon selfs sy man teen Lando Norris en Lewis Hamilton in die pylvak van die wedren staan. In die geheel is ek baie tevrede met sy vertoning.

“Daarbenewens was sy terugvoer uitstekend, terwyl hy kalm oor die spanradio gepraat het. Dit het ons almal sommer baie rustiger gemaak.”

Bearman is tiende op die jaerspunteleer met sy ses punte; net twee punte agter die ervare Lewis Hamilton.

Die 39-jarige Hamilton skuif juis volgende jaar agter die stuur van ’n Ferrari in wanneer hy vir Sainz vervang.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

capie ·

Die laaitie het almal verbaas en baie goed gedoen. Nou wil Ferrari ‘n hasbeen in Sainz se plek sit. Maak nie vir my sin nie.

Mart ·

Ek sal nie verbaas wees as LH eintlik betaal om da te gaan ry.Hulle wou hom nooit he maar nou eweskielik soek hulle hom,dink dis net n manier vir advertensie vir ferrari.Hoor my woorde,da sal met n swart ferrari gery word in die nabye toekoms…

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.