Glimlaggende Lara sorg vir vuur in die water

Lara van Niekerk is een van Suid-Afrika se goue swemmeisies. (Foto: Andy Buchanan / AFP)

Saam met die medaljes en indrukwekkende tye spog Lara van Niekerk ook met ʼn ellelange Wikipedia-bladsy wat ʼn mens meer van haar doen en late vertel.

Toegegee, jou universiteitsdosent het altyd gesê dat dié aanlyn ensiklopedie nie noodwendig ʼn geloofwaardige bron is nie, maar goeiste; wanneer dit van goue medaljes en rekords getuig kan jy maar gerus die share-knoppie druk.

Dié oudleerder van Hoërskool Garsfontein het verlede jaar die verbeelding van Suid-Afrikaanse sportondersteuners aangegryp toe sy by die Statebondspele in Birmingham [letterlik] water in haar teenstanders se oë geskop het.

Goue medaljes in die 50 m- en 100 m-borsslagitem is met ʼn blitsige vertoning by die Wêreldkortbad-byeenkoms in Melbourne opgevolg.

ʼn Tyd van 29,09 sekondes in die 50 m-borsslag beteken dat ʼn Afrika-rekord ook so saam met die silwer medalje langs haar naam staan.

Glad nie sleg vir ʼn 20-jarige nie. En boonop vermag sy al die prestasies met ʼn groot glimlag op haar gesig.

“Ek swem eintlik al vir so lank as wat ek kan onthou. Ek het nog altyd van die water gehou, maar ek het amptelik saam met ʼn afrigter begin oefen toe ek agt jaar oud was,” het Van Niekerk aan Maroela Media gesê.

Meer onlangs het sy haar slag in Londen gewys, terwyl sy ook met ʼn tyd van 29,75 sekondes die septer by die Mare Nostrum-byeenkoms in Monte Carlo geswaai het.

“Ek was nog altyd mal oor borsslag en dit is iets wat ek net natuurlik kan doen. Ek moet egter bieg dat ek al oor die jare baie aan my slag geskaaf het om my meer vaartbelyn en doeltreffend in die water te maak.”

So van skaaf- en voorbereidingswerk gepraat … sy oefen deksels hard sodat sy nie net by die wêreld se voorste swemmers kan kers vashou nie, maar ook om vir hulle ore aan te sit.

Vuur in die water… (Foto: Oli Scarff/AFP)

Van Niekerk het nege swemsessies per week, terwyl sy ook gereeld die gimnasium besoek.

“Dit kan uitputtend wees, maar ek probeer my bes om ná my Saterdagoggend-sessie tyd vir my familie en vriende te maak en om te rus.”

Die Olimpiese Spele word volgende jaar in Parys aangebied en volgens oorlewering smaak ʼn glasie Franse vonkelwyn net soveel beter met ʼn medalje om jou nek.

“Dit sal natuurlik ongelooflik wees om ʼn medalje in Frankryk in te oes, maar my hooffokus is veel eerder om myself so goed as moontlik van my taak kwyt. Ek wil terselfdertyd die Olimpiese atmosfeer ten volle inneem en dit geniet om teen die beste swemmers ter wêreld in aksie te wees.”

Klap die senuwee-skoenlappers nog hul vlerke voor ʼn groot byeenkoms?

“Natuurlik! Ek dink nie die senuwees sal ooit heeltemal verdwyn nie en ek wil ook nie hê dat dit ooit moet gebeur nie. Ek begin dit egter al beter aanwend om my in die water aan te vuur.”

As sy nie ʼn superswemmer was nie, sou sy waarskynlik die sakrekenaar die praatwerk laat doen.

(Foto: Anton Geyser/Gallo Images)

“Ek wou nog altyd saam met my pa werk – hy is ʼn finansiële adviseur – en ek beplan om daardie loopbaanrigting te volg wanneer ek eendag my swemkappie vir oulaas wegbêre.”

Wanneer jou vertoonkas uit sy nate bars met goue medaljes, moet daar ook ʼn paar ander vertonings wees waarop jy trots is.

“As ek nou so terugdink moet dit my silwer medalje by die Wêreldkortbad-kampioenskap in Australië wees. Ek het net ná die Statebondspele ʼn voetoperasie ondergaan en dit was so ʼn hittete of ek het nie Desember deelgeneem nie. Ek is baie trots op myself, my afrigter en wat ons in net ʼn paar maande se voorbereidingswerk vermag het.”

Die Olimpiese Spele is nog meer 400 dae weg en Van Niekerk het dus oorgenoeg tyd om vir ʼn moontlike medalje te slyp.

Ja-nee, van Penny Heyns na Tatjana Schoenmaker en Lara van Niekerk: Suid-Afrika se swemaflosstokkie is ongetwyfeld in bekwame hande.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.