Griek maak ’n einde aan Daniil se Cincinnati-droom

Griekeland se Stefanos Tsitsipas. Foto: Aaron Francis/AFP.

Stefanos Tsitsipas het na die eindstryd van die Western & Southern-ope in Cincinnati deurgedring toe hy Daniil Medvedev met 7-6, 3-6 en 6-3 geklop het.

Dit was slegs die derde keer in tien probeerslae dat die Griekse ster met die wêreldnommereen-speler kon afreken.

Tsitsipas het veral op sy vlughoue naby die net staatgemaak om Medvedev op sy tone te hou en dit was ’n strategie wat hy gereeld ingespan het – 36 keer om presies te wees.

“Ek moes definitief ’n paar moeilike houe speel en dit was veral my aggressiewe spel naby die net wat die knoop deurgehak het,” het Tsitsipas gesê.

Die Griek moes in die tweede stel ’n agterstand van 0-5 trotseer en hy het geweet dat hy op sy heel beste in die daaropvolgende potte sal moet wees.

“Ek het geweet dat ek dinge vir myself moeilik gemaak het; ’n derde stel teen iemand soos Daniil is beslis nie maklik nie. Gelukkig het ek voordeel uit ’n paar van sy swakker afslaanpogings getrek en ek het probeer om elke geleentheid met al twee hande aan te gryp.”

Hy speel nou in die eindstryd teen Kroasië se Borna Coric wat met Groot-Brittanje se Cameron Norrie klaargespeel het.

In die vroue-afdeling sal Caroline Garcia en Petra Kvitova swaarde kruis.

  • Uitslae:

Stefanos Tsitsipas klop Daniil Medvedev met 7-6, 3-6 en 6-3

Borna Coric klop Cameron Norrie met 6-3 en 6-4

Caroline Garcia klop Aryna Sabalenka met 6-2, 4-6 en 6-1

Petra Kvitova klop Madison Keys met 6-7, 6-4 en 6-3.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.