Hamilton vat-vat aan die kroon ná hy in Mexiko wen

Lewis Hamilton waai vir die skare na sy oorwinning in die Mexikaanse Formule Een-Grand Prix. Foto: (AP Photo/Marco Ugarte)

Lewis Hamilton (Mercedes) het Sondagaand (SA tyd) in Mexiko-stad die Mexikaanse Formule Een-Grand Prix gewen, maar dit was steeds nie genoeg om aan hom vanjaar se wêreldkampioenskap te besorg nie.

Hamilton het 1,766 sekondes voor Sebastian Vettel (Ferrari) geëindig, met Valtteri Bottas (Mercedes) derde, Charles Leclerc (Ferrari) vierde en die twee Red Bulls van Alexander Albon en Max Verstappen onderskeidelik vyfde en sesde.

Dit was Hamilton se 83ste loopbaansege en hy kruip al hoe nader aan die rekord van Michael Schumacher (91).

Die Mexikaanse Formule Een-Grand Prix. Foto: (AP Photo/Rebecca Blackwell)

Dit was Hamilton se tiende oorwinning vanjaar en sy voorsprong bo Bottas op die punteleer is 74 punte. Dit was ook die tweede keer (ook in 2016) dat hy in Mexiko geseëvier het en dit was Mercedes se derde oorwinning in Mexiko nadat Nico Rosberg in 2015 baas was.

Hamilton, wat gesê het dat hy nie te veel omgee om nou al (die sesde keer) as wêreldkampioen gekroon te word nie, sal na alle waarskynlikheid aanstaande Sondag in Austin in die VSA vanjaar se kampioen word, want hy benodig nog net vier punte, met altesame 52 punte wat nog op die spel is in vanjaar se reeks ná die Amerikaanse Grand Prix.

Wie is bereid om daarteen te wed?

Lewis Hamilton vier sy oorwinning in die Mexikaanse Formule Een-Grand Prix. Foto: (AP Photo/Eduardo Verdugo)

Dié Grand Prix was ʼn verdere pluimpie vir Mercedes, want afgesien daarvan dat die span reeds vanjaar se vervaardigerstitel gewen het, was dit sy 100ste oorwinning in sy kort bestaan.

Hamilton het net een keer, in die 23ste rondte, die kuipe aangedoen om bande te ruil. Dié eenstop-strategie was in die kol, want dinge het nie so vlot vir Leclerc verloop nie toe Ferrari besluit het op ’n tweestop-strategie, wat sy wenkanse beduiwel het.

Dit was nie ʼn ren vol opwinding nie, maar as ʼn mens in ag neem dat daar byna 350 000 toeskouers na die baan oor die afgelope paar dae gestroom het om die oefensessies, kwalifisering en die ren by te woon en astronomiese toegangsgeld daarvoor op te dok, moet ʼn mens die F1-base gelyk gee: Hulle het die wenformule jare gelede al ontdek en bou jaarliks daarop voort.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.