Hou dié Sani2C-deelnemers dop

Marco Joubert en Wessel Botha is die verdedigende kampioenspan. (Foto: Anthony Grote)

Die 19de weergawe van die KAP Sani2C Race gaan vanjaar vir skouspelagtige kompetisie tussen deelnemers sorg, veral in die lig daarvan dat van ons land se beste spanne Donderdag by die beginpunt gaan aanmeld vir ʼn blitsvinnige 265 km per fiets van Underberg tot in Scottburgh.

Mans

Daar is drie spanne wat waarskynlik die mansafdeling gaan oorheers, maar slim spantaktiek en die feit dat enigiets moontlik is tydens Suid-Afrika se vinnigste driedag multiskof-ren, kan die aksie op verskeie maniere laat ontvou.

Die verdedigende kampioene, Marco Joubert en Wessel Botha van (Imbuko {Type} DEV, sal deur hul spanmaats Pieter du Toit en Franko van Zyl vergesel word. Joubert voorspel dat die Beers/Nortje- en Du Toit/Bontekoning-span hul taaiste mededingers sal wees.

“Ek dink ons toerusting is vanjaar beter as verlede jaar, so ons voel ʼn bietjie meer selfversekerd. En omdat ons verlede jaar gewen het en die roete ken, tiek ons al die boksies,” het hy gesê.

Die 2023 Absa Cape Epic- kampioen Matt Beers (Toyota-Specialized) en Tristan Nortje is die ooglopende gunstelinge en sal ondersteun word deur hul spanmaats Zola Ngxakeni and Ntlantla Nonkasa. Beers was nog elke keer op die podium sedert sy eerste deelname in 2017. In 2018 was hy in die span wat gewen het.

“Elke wedren waarvoor ek inskryf, ry ek om te wen en Sani2C is so ʼn wonderlike wedren, ek sal dit graag weer wil wen. Ek dink met Tristan as spanmaat staan ons ʼn baie goeie kans. Ek dink die roete pas ons albei en ons sal kan saamwerk om ʼn oorwinning te verseker,” het Beers gesê.

Die Sani2C-bergfietsmarathon is ongetwyfeld ’n gewilde inskrywing op die fietsrykalender. (Foto: Verskaf/Anthony Grote)

Die sterk kombinasie van jeug en ervaring van Arno du Toit en Keagan Bontekoning vir Insect Science gaan ʼn formidabele teenstander wees, hoewel dit uitdagend gaan wees sonder ʼn ondersteuning-span.

Du Toit is ʼn ou bekende op die podiums by Sani2C en verlede jaar het hy en Bontekoning tweede plek vir Insect Science behaal. Hy sê hulle is albei goed voorbereid vir vanjaar se Sani2C, met hul onderskeie derde en vyfde plekke by die XCO-kampioenskap verlede naweek.

ʼn Ooglopende afwesigheid vanjaar is PYGA Eurosteel se Philip Buys. Tesame met Alex Miller sou dié span baie opwinding toegevoeg het tot die ren, maar hul XCO-verpligtinge het hulle verhoed om aan Sani2C deel te neem.

HB Kruger sal saam met Rossouw Bekker ry vir Valley Electrical Titan Racing. Luyanda Thobigunya en Kusaselihle Ngidi sal vir Fairtree-DP-World Cannondale deelneem. Hulle het verlede jaar agtste gekom in die Sani2C en hulle hoop vanjaar om vyfde te eindig.

Phillimon Sebona en Jan Montshioa neem deel as ʼn span vir Curro Cycling, terwyl ander spanne waarvoor daar uitgekyk moet word die padfiets-ryers Alwyn jr. Steenkamp en Brandon Downes (Team Zini-TEG) is. Veterane Mike Posthumus en Criag Uria sal as Team Restonic13 ry, en Unathi Nxumalo en Matthew Scott sal in die Young Guns-kategorie vir Absolute Motion/Pump for Peace ry.

Vroue

Ná haar oorwinning in die Kaapstad-fietstoer en die Absa Cape Epic, mag Efficient Infiniti se Kim le Court dalk onstuitbaar wees. Le Court ry saam met Samantha Sanders, wat self nie ʼn onbekende op die KAP Sani2C-podium is nie

Kim le Court en Robyn de Groot het verlede jaar met die louere weggery. (Foto: Anthony Grote)

“Ek sien daarna uit om saam met Sammy te ry, dit is ʼn rukkie sedert ons laas saam gery het. Ons wil eerstens baie pret hê, maar om van die hoogste trappie by die Epic af te klim en dan Sani2C te ry, is ʼn goeie gevoel. Dit gaan nie oor wie die sterkste is nie, dit gaan daaroor hoe vinnig ons saam kan ry. En dis wat ons sal doen,” meen Le Court.

Sarah Hill en Elrika Harmzen het ʼn belowende span gevorm (HH Womens Racing), en sal saam ry vir die 2023/’24-seisoen. Hoewel dit Harmzen se eerste Sani2C is, het sy ʼn baie goeie reputasie verwerf sedert sy op die toneel verskyn het tydens Covid-19. Sy het ʼn span gevorm met die ondersteuning van Wintergreen, en die Barrier Breakers het die profiel van vrouefietsry gedurende die tydperk verhoog voordat hul borgskap vanjaar beëindig is.

Hill en Harmzen het hul vennootskap versterk by die ABSA Cape Epic, hoewel hul deelname gekniehalter is. Ten spyte van ernstige gesondheidsprobleme het die span deurgedruk om die ren in ʼn indrukwekkende agtste posisie in die UCI-vrouekategorie te voltooi.

Skakel in om na die regstreekse uitsendings te kyk op Instagram stories @_sani2c.

Die KAP Sani2C vind plaas van 27 tot 29 April. Die Adventure duur van 26 tot 28 April en beide byeenkomste volg dieselfde 265 km roete oor die drie dae. Volgende maand vind die KAP Sani2C nonstop 24-uur ren gedurende 13 en 14 Mei plaas.

Besoek www.sani2c.co.za vir verdere inligting.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.