Hou dié spelers dop, sê topafrigter

Spanje se Carlos Alcaraz. Foto: Javier Soriano/AFP.

Die Italiaanse Ope was die perfekte lusmakertjie, maar nou skuif alle aandag na die groot toernooi: die Franse Ope op Roland Garros in Parys.

En volgens die bekende tennisafrigter Patrick Mouratoglou is daar vier spelers wat moontlik op 5 Junie die silwerware in die Franse hoofstad omhoog kan hou.

  1. Carlos Alcaraz (Spanje):

“Carlos is tans die wêreld se bestendigste speler. Hy het in Miami, Barcelona en Madrid gewen, terwyl hy ook die eerste speler ooit geword het om met Rafael Nadal en Novak Djokovic in dieselfde toernooi af te reken,” het Mouratoglou gesê.

Suid-Afrika se John-Laffnie de Jager het ook al vantevore die 19-jarige Spanjaard se lof besing. Hy het egter terselfdertyd gewaarsku dat ’n Grand Slam-toernooi ’n perd van ’n ander kleur kan wees.

“’n Taai Grand Slam-tweestryd wat oor vyf stelle beslis word, sal seker die ware toets wees, maar hy is sterk, beweeg ongelooflik goed op die baan rond en raak nie sommer verbouereerd wanneer dinge nie dadelik volgens plan verloop nie.”

  1. Stefanos Tsitsipas (Griekeland):

Stefanos Tsitsipas tydens verlede jaar se Franse Ope-eindstryd, (Foto: Christophe Archambault/AFP)

Die vurige Griek is die volgende speler op Mouratoglou se lys.

Tsitsipas het juis in die afgelope Rome-eindstryd teen Novak Djokovic gespeel, terwyl hy ook verlede jaar op Roland Garros teen die einste speler in aksie was.

“Stefanos het sy titel suksesvol in Monte Carlo verdedig, terwyl hy deesdae ook ’n krag op kleibane is.”

Die 23-jarige speler het ook groot drome: Hy wil teen die einde van die seisoen onder die twee voorste spelers te wêreld tel. ’n Goeie vertoning in Parys sal ongetwyfeld ’n tree in die regte rigting wees.

  1. Novak Djokovic (Serwië):

Ná ’n moeilike aanloop tot die jaar is die wêreld se voorste speler besig om sy voete te vind – sy onlangse sege in Rome onderstreep net weer eens sy klas.

“Novak het verlede jaar die Grand Slam-toneel oorheers, maar die Franse Ope sal sy eerste groot toernooi van 2022 wees. As hy in Frankryk wen, sal hy op koers wees om die meeste Grand Slam-titels nóg agter sy naam te hê.”

  1. Rafael Nadal (Spanje):

Rafael Nadal (Foto: Roland Garros, Twitter)

Wat is die Franse Ope sonder die “koning van klei” – Rafael Nadal?

Ja, sy voetbesering het weer sy kop in Rome uitgesteek, maar die 36-jarige Spanjaard speel altyd net beter op sy geliefde Roland Garros – soos wat sy rits titels getuig.

“As Rafa nou wen, sal hy twee Grand Slam-titels meer as Novak en Roger Federer hê; ongetwyfeld goeie aansporing. Hy het egter nie te goed in sy mees onlangse wedstryde gespeel nie.”

  • Die aksie begin op 22 Mei en dit sal regstreeks op SuperSport uitgesaai word.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.