Inskrywings vir Comrades open binnekort

Die Comrades is volgende jaar van Durban na Pietermaritzburg. (Foto: X/Comrades)

Inskrywings vir die 2024-weergawe van die Comrades-marathon open amptelik op 21 November (om 10:00) en sluit op 11 Desember (om 16:30) óf wanneer 23 000 inskrywings ontvang is.

Volgende jaar se wedloop sal ʼn opdraande stryd van Durban na Pietermaritzburg wees en volgens organiseerders kan deelnemers hulle gereedmaak om ongeveer 87 km aan te durf.

“Die 2024-Comrades gaan ongetwyfeld een van die opwindendste weergawes van dié wêreldbekende ultramarathon wees. Ons gaan weer vir die eerste keer in ʼn paar jaar ʼn opdraande wedloop aanbied,” het Mqondisi Ngcobo, voorsitter van die Comrades-vereniging (CMA), gesê.

Die kwalifiseringskriteria bly onveranderd: Voornemende deelnemers het nog tot 2 Mei 2024 kans om ʼn marathon (42,2 km) in minder as 4:50:00 kaf te draf of ʼn ultramarathon in ʼn vinniger tyd as 6:45:00 te voltooi.

Volgens Ann Ashworth – wedloopbestuurder – sal die prysgeld vir die toptiendeelnemers ook met 10% vermeerder.

Die wenners in die mans- en vrouekategorie sal volgende jaar elk R550 000 in die sak steek; die bedrag sal natuurlik verdubbel indien hulle die bestaande rekord vir die op-wedloop verbeter.

  • Belangrike inligting:

Datum van amptelike wedloop: 9 Junie 2024

Inskrywingstydperk: 21 November 2023 tot 11 Desember 2023

Inskrywingsgeld: R1 200 (Suid-Afrikaanse burgers), R2 000 (res van Afrika) en R4 500 (internasionale deelnemers)

Kwalifiseringstydperk: 1 September 2023 tot 2 Mei 2024

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.