Kevin in kwarteind van terugkeertoernooi

Kevin Anderson is op die voorvoet in Newport. (Foto: Twitter/ATP)

Watwou! Die blaaskans van amper 500 dae het Kevin Anderson oënskynlik goed gedoen en die Suid-Afrikaans gebore tennisspeler is deur na die kwarteindstryd van die Hall of Fame-tenniskampioenskap in Newport.

Die 37-jarige speler wat in 2022 sy uittrede aangekondig het en onlangs weer ʼn terugkeer gemaak het, het Gijs Brouwer met 6-3 en 7-6 geklop om vir die uitklopronde teen Frankryk se Ugo Humbert te kwalifiseer.

Kragtige afslaanwerk was weer eens Anderson se grootste bondgenoot en hy het 11 kishoue teen sy Nederlandse teenstander afgevuur.

Die voormalige wêreldno. 5-speler het verlede jaar besluit om sy raket weg te bêre ná ʼn professionele loopbaan van 15 jaar en sewe ATP-titels.

Van die hoogtepunte in sy eerste spelershoofstuk was onder meer die eindstryde van die Amerikaanse Ope (2017) en Wimbledon (2018), terwyl hy in die einste grasbaan-toernooi vir Roger Federer op skouspelagtige wyse uitgeskakel het.

Die Suid-Afrikaner was in daardie wedstryd met twee stelle agter, maar het verbete terugbaklei om die kragmeting met 2-6, 6-7, 7-5, 6-4 en 13-11 te wen.

“Dit is nog net ʼn paar maande sedert ek besluit het om my tennisreis te hervat en ek weet nie waar dit alles nou gaan eindig nie,” het Anderson gesê nadat hy sy terugkeer met ʼn oorwinning oor Gabriel Diallo gevier het.

Hy het ʼn goeie verstandhouding met die organiseerders van die Newport-toernooi en hy het as promotorskeuse toegang tot die ATP2050-aksie verkry.

“Ek het ʼn paar dae gelede my eerste sessie op ʼn grasbaan in twee jaar gehad en ek is baie tevrede daarmee dat ek so vinnig kon aanpas.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.