Kyk: Hamilton wen omstrede Silverstone-wedren

Lewis Hamilton het eerste oor die wenstreep by die Britse Grand Prix gejaag. Foto: Lars Baron/AFP.

Lewis Hamilton het vandag met die louere op die Silverstone-renbaan weggejaag om toe te sien dat Max Verstappen nou net ’n voorsprong van agt punte op die kampioenskap-punteleer geniet.

Maar die wedren is in omstredenheid gehul ná Hamilton se Mercedes in die eerste ronde teen Verstappen se regter-agterband gebots het.

Die jong Nederlander se motor het getol en hy het teen amper 290 km/h teen ’n versperring gebots. Red Bull het later in ’n kort verklaring gesê dat hy na ’n hospitaal vir toetse geneem is.

Daarteenoor het Hamilton lig van die hele storie weggekom – hy is met tien sekondes beboet omdat hy die ongeluk veroorsaak het. Sommige kenners meen dat hy eintlik vir ’n wedren geskors moet word.

Met Verstappen uit die prentjie kon Hamilton die krane oopdraai – ’n agterstand van tien sekondes is nie veel wanneer jy agter die stuur van ’n blitsige Mercedes is nie.

Sy Mercedes-spanmaat, Valtteri Bottas, het eers vir hom plek gemaak en daarna het hy Ferrari se Charles Leclerc ingejaag.

Toegegee, Hamilton het sy bestuursvernuf uitstekend ten toon gestel, maar sy oorwinning sal ’n wrang smaak in die mond van Red Bull-ondersteuners laat.

“Dit was ’n desperate ding van Lewis om te doen en in my oë was dit vuilspel,” het Christian Horner, Red Bull-spanbaas, gesê.

Dinge begin nou warm raak en Verstappen-hulle sal oorgehaal wees om die bordjies in Hongarye te verhang.

  • Uitslae:
  1. Lewis Hamilton
  2. Charles Leclerc
  3. Valtteri Bottas
  4. Lando Norris
  5. Daniel Ricciardo
  • Puntestand op die kampioenskap-punteleer (bestuurders):
  1. Max Verstappen 185 punte
  2. Lewis Hamilton 177 punte
  3. Lando Norris 113 punte
  4. Valtteri Bottas 108
  5. Sergio Perez 104 punte
  6. Charles Leclerc 80 punte
  7. Carlos Sainz 68 punte
  8. Daniel Ricciardo 50 punte
  9. Pierre Gasly 39 punte
  10. Sebastian Vettel 30 punte
  • Puntestand op die kampioenskap-punteleer (vervaardigers):
  1. Red Bull 289 punte
  2. Mercedes 285 punte
  3. McLaren 163 punte
  4. Ferrari 148 punte
  5. AlphaTauri Honda 49 punte

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

MakersMark ·

Die hele wedren was ‘n sirkus. LH moes na sy roekelose en gevaarlike optrede in rondte een gediskwalifiseer word. Of ten minste ‘n swaarder straf as die 10 s wat hy gekry het. Die wedren bestuur het seker nie daarvoor kans gesien voor die engelse wat nog suur is oor die euro beker sokker en die rassistiese uitval daar nie. Asook natuurlik die hele blm beweging en die slagoffer mentaliteit wat reuse uitval in die pers sou veroorsaak het. Wonder hoe sou die situasie gewees het as ‘n ander deelbemer vir LH so van die baan afgedruk het ?

Natasha ·

Hamilton het opsetlik Verstappen se lewe in gevaar gestel en moes sommer vir die res van die seisoen gediskwalifiseer te word.

Stefaan ·

Ek sit met die vraag. Hoe groot sou sy vernedering gewees het as hy die wedren agter Max sou eindig op sy tuis baan en voor sy tuis skare teenoor vat die kans en voltooi moontlik nie die wedren agv skade aan die motor.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.