Kyk: Rublev in sop ná lynregtertirade

Andrey Rublev in gesprek met wedstrydbeamptes. (Foto: Ryan Lim/AFP)

Rusland se Andrey Rublev is uit die Dubai-tennisope geskors nadat hy op ʼn lynregter in die halfeindstryd van die toernooi geskree het.

Die 26-jarige speler het die eerste stel teen Alexander Bublik gewen, maar die Kasakstan-speler het goed teruggeveg om voorsprong in die beslissende stel van 6-7, 7-6 en 6-5 te geniet.

Al twee spelers se humeure was aan die kort kant in die wedstryd, maar dit was Rublev se frustrasiepot wat die kwaaiste oorgekook het toe hy met ʼn beslissing verskil het.

ʼn Russiessprekende wedstrydbeampte het Roland Herfel, die amptelike ATP-toesighouer, in kennis gestel dat Rublev in sy moedertaal gevloek het terwyl hy op die lynregter geskree het.

Die wêreldnommervyfspeler het dit ten sterkste ontken dat hy Russies gepraat het, maar hy is nogtans weens onsportiewe gedrag deur die skeidsregter geskors.

Rublev sal nou al sy prysgeld en ranglyspunte vir die week moet afstaan.

Bublik, wat in Rusland gebore is maar nou vir Kazakstan verteenwoordig, was vroeër ook in die sop omdat hy sy raket op die baan stukkend geslaan het.

Hy glo egter nie dat Rublev geswets het in sy onderonsie met die lynregter nie.

“Andrey is nie só ʼn mens en speler nie, maar die wedstrydbeamptes het seker nou net volgens die spel se reëls en regulasies opgetree,” het Bublik gesê.

“Daar is eintlik nie veel meer om te sê nie. Met alle respek – dit was ʼn baie goeie wedstryd en ons al twee het verdien om te wen. Die toeskouers het goed saamgesels en ons kon een van die beste wedstryde nóg teen mekaar gespeel het. Dit is ʼn jammerte dat dinge nou so moes eindig.”

Daria Kasatkina het intussen ook vir Rublev in die bresse getree en gesê dat die beslissing ʼn grap is.

“Kan ons dan net ʼn speler by verstek veroordeel en al sy ranglyspunte en geld wegneem sonder om eens weer na die beskikbare beeldmateriaal te kyk? Dit is ʼn klug en net weer eens ʼn bevestiging dat ons tegnologie by alle tennistoernooie moet inspan,” het die 12de beste vrouespeler op X gedeel.

  • Bublik speel later vandag in die Dubai-eindstryd teen Frankryk se Ugo Humbert.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.