Leclerc jaag met louere in Oostenryk weg

Max Verstappen en Charles Leclerc vier fees op die podium. Foto: Joe Klamar/AFP.

Charles Leclerc het vandag in Oostenryk vir die eerste keer in sy loopbaan ’n wedren gewen nadat hy nie heel eerste weggespring het nie.

Die Ferrari-renjaer (wat tweede op die wegspringrooster gestaan het) se vuurwa het oor genoeg perdekrag beskik om sonder enige probleme ’n paar keer verby Max Verstappen te glip. Tog was die verdedigende wêreldkampioen in ’n veglustige bui en hy het veral teen die einde van die wedren vir Leclerc onder druk geplaas.

Maar soos wat die trefafstand tussen die twee renjaers verminder het, só het die oorblywende rondes ook al minder geword en die geruite vlag is weer eens vir Leclerc geswaai.

Dit was sy derde oorwinning van die seisoen.

Die twee Mercedes-renjaers – Lewis Hamilton en George Russell – was onderskeidelik derde en vierde, terwyl Sergio Perez nie die wedren kon voltooi nie ná ’n vroeë botsing met Russell.

Carlos Sainz het Verstappen se tweede plek in visier gehad, maar die noodlot het net voor die einde getref toe sy motor aan die brand geslaan het.

Terwyl wedrenbeamptes gespook en gespartel het om die renmotor tot stilstand te bring, het Sainz uitgeklim en magteloos toegekyk hoe ’n moontlike podiumplek in vlamme opgaan.

Die lekker verrassing van die dag was egter Mick Schumacher wat sesde geëindig het.

Ná verlede jaar se gesukkel lyk dit of die jong Schumacher beslis besig is om sy voete op die F1-verhoog te vind en hy het met tye met sy verbysteekvernuf beïndruk.

Verstappen is egter steeds die voorloper op die jaerspunteleer met 208 punte, gevolg deur Leclerc met sy 170 punte.

Uitslae:

  1. Charles Leclerc (Ferrari)
  2. Max Verstappen (Red Bull)
  3. Lewis Hamilton (Mercedes)
  4. George Russell (Mercedes)
  5. Esteban Ocon (Alpine)
  6. Mick Schumacher (Haas)
  7. Lando Norris (McLaren)
  8. Kevin Magnussen (Haas)
  9. Daniel Ricciardo (McLaren)
  10. Fernando Alonso (Alpine)

Jaerspunteleer:

  1. Max Verstappen: 208 punte
  2. Charles Leclerc: 170 punte
  3. Sergio Perez: 150 punte
  4. Carlos Sainz: 133 punte
  5. George Russell: 128 punte
  6. Lewis Hamilton: 109 punte
  7. Lando Norris: 64 punte
  8. Esteban Ocon: 52 punte
  9. Valtteri Bottas: 46 punte
  10. Fernando Alonso: 29 punte

Vervaardigerspunteleer:

  1. Red Bull: 359 punte
  2. Ferrari: 303 punte
  3. Mercedes: 237 punte.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

piet ·

“Uitslae” is verkeerd. Sainz het nie gewen nie maar Leclerc.

Koos 100 ·

Piet. Iets het drasties verkeerd gegaan. Op die poduim is die wenner ook as Sainz aangedui, dit terwyl Leclerc op die boonste sport staan!!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.