Leclerc steek hand in eie boesem

Ferrari-ongeloof ná Charles Leclerc se beheerverloor-sessie in Frankryk. Foto: Eric Gaillard/AFP.

In die vinnige wêreld van F1-wedrenne kan een klein foutjie ’n reuse-invloed op ’n renjaer se titeldrome hê. Vra maar net vir Charles Leclerc.

Die Ferrari-renjaer was gister oënskynlik op koers na ’n maklike sege in Frankryk voordat die noodlot in die 18de ronde getref het. Hy het beheer om ’n draai verloor en sy vuurwa het met ’n harde slag teen ’n versperring tot stilstand gekom.

Max Verstappen – wat op die spanradio gevra het of Leclerc oukei is – het die voortou geneem om uiteindelik sy sewende wedren van die seisoen te wen. Hy geniet nou ’n voorsprong van 63 punte bó sy Ferrari-teenstander.

“Dit was my fout. En as ek aanhou om sulke foute te maak, verdien ek nie die wêreldkampioenskap-titel nie,” het Leclerc ná afloop van die wedren gesê.

Ferrari se Charles Leclerc. Foto: Twitter.

Volgens die Monte Carlo-boorling was hy nog nooit vantevore in sy loopbaan so goed agter die stuur nie, maar sy foute is besig om alles te belemmer.

“Ek staan hopeloos te veel punte af. Ek dink ek het sewe op Imola prysgegee en nou 25 hier. Ek glo eerlikwaar dat ons vandag die sterkste motor op die baan gehad het – as ons op die ou einde die kampioenskap met 32 punte verloor, weet ek presies waar dit vandaan kom. Dit is pleinweg net onaanvaarbaar en ek moet pa hiervoor staan.”

Boonop is Sergio Perez net sewe punte agter Leclerc op die jaerspunteleer; ’n ongelooflike statistiek as ’n mens in ag neem dat die Ferrari-renjaer reeds sewe keer vanjaar heel voor weggespring het.

Mattia Binotto, Ferrari-spanhoof, het egter vir sy beleërde renjaer in die bres getree.

“Ek dink dit is ’n onregverdige stelling om te sê dat Charles te veel foute maak. Ons sal die wedren met hom bespreek en kyk waar dinge verkeerd geloop het en daar is geen rede om hom te blameer nie. Charles is iemand wat sterk op sy foute reageer en ek is seker dat hy met mening in Hongarye sal terugveg,” het Binotto gesê.

Uitslae van Franse Grand Prix:

  1. Max Verstappen (Red Bull)
  2. Lewis Hamilton (Mercedes)
  3. George Russell (Mercedes)
  4. Sergio Perez (Red Bull)
  5. Carlos Sainz (Ferrari)
  6. Fernando Alonso (Alpine)
  7. Lando Norris (McLaren)
  8. Esteban Ocon (Alpine)
  9. Daniel Ricciardo (McLaren)
  10. Lance Stroll (Aston Martin)

Jaerspunteleer:

  1. Max Verstappen: 233 punte
  2. Charles Leclerc: 170 punte
  3. Sergio Perez: 163 punte
  4. Carlos Sainz: 144 punte
  5. George Russell: 143 punte
  6. Lewis Hamilton: 127 punte
  7. Lando Norris: 70 punte
  8. Esteban Ocon: 56 punte
  9. Valtteri Bottas: 46 punte
  10. Fernando Alonso: 37 punte

Vervaardigerspunteleer:

  1. Red Bull: 396 punte
  2. Ferrari: 314 punte
  3. Mercedes: 270 punte
  4. Alpine: 93 punte
  5. McLaren: 89 punte.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

daarsdit ·

Ek is ‘n Red bull fan. Maar daar is ‘n paar ouens wat my na aan die hart le buiten Max, maak nie saak vir watter span hulle ry nie. En my hart het gebreek vir Charlie sondag. Wens mens kan net vir hom se moenie worry nie, ons nog steeds trots op jou.

Vonkprop ·

Ek stem. Dink net as Max saam met Charles vir een span kon jaag. Daardie span sou onoorwonne gewees het. Ek waardeer ook die respek na ‘n resies tussen Max en Charles. Hulle lag en bespreek die resies soos vriende by ‘n braai. Ek voel ook beide verdien die titel, selfde met Carlos en Sergio

Frans ·

Die druk wat Max in die begin op Leclerc geplaas het.het sy tol ge-eis en het Leclerc eenvoudig te vinnig die draai ingegaan,Die Ferrarijaers en spanbestuur maak eenvoudig te veel foute en die latynse temperament kom dikwels na vore in hul besluite.
Nadat Leclerc die een sekonde DRS verbreek het het hy te hard probeer om dit te vegroot instede om die pas te beheer begaan hy ‘n fout wat hom die wedren kos.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.