Lloyd ryg weer die kishoue in

Suid-Afrika se Lloyd Harris. (Foto: Twitter/Atlanta-ope)

Lloyd Harris begin nou weer momentum op die internasionale tennisverhoog opbou.

Die Suid-Afrikaner – wat in ʼn stadium 31ste op die ATP-ranglys was – is terug nadat ʼn gewrigbesering hom maande langs die baan gehou het.

Hy het nou met James Duckworth in die Atlanta-ope met 3-6, 6-3 en 6-2 afgereken om ʼn ontmoeting met Frankryk se Ugo Humbert te bespreek.

Die 26-jarige Harris het 18 kishoue en 32 wenhoue in sy oorwinning afgevuur en hy begin stelselmatig weer na die speler lyk wat in 2021 onder andere met Rafael Nadal, Stan Wawrinka, Kei Nishikori en Denis Shapovalov klaargespeel het.

Nadal was destyds vol lof vir Harris se afslaanvernuf nadat die Suid-Afrikaner hom in die Citi-ope (eindtelling was 6-4, 1-6 en 6-4) uitgeskakel het.

“Ek het teen iemand kragte gemeet wat baie goeie tennis gespeel het. Ek dink wel dat ek nou beter as in my vorige wedstryd gespeel het, maar sy afslane was só goed,” het Nadal ná die tweestryd gesê.

Harris se lopie in Atlanta:

Klop Donald Young met 6-1 en 6-2 (kwalifiserende wedstryd)

Klop Michael Mmoh met 6-2, 6-7 en 7-6 (kwalifiserende wedstryd)

Klop James Duckworth met 3-6, 6-3 en 6-2 (ronde van 32)

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.