Loeb skop Dakar-stof op

Sebastien Loeb het die vierde skof van die Dakar-tydren gewen. Foto: Prodrive.

Die ervare Sebastien Loeb het uiteindelik iets om oor te glimlag nadat hy gister die vierde skof van die moordende Dakar-tydren gewen het.

Die 48-jarige Fransman het vroeër die wind van voor tussen die duine gekry en hy het meer as ʼn uur in die vorige skofte verloor.

Hy was egter gister weer op sy stukke om te verhoed dat Stephane Peterhansel – beter bekend as Mnr. Dakar – die 50ste skof van sy roemryke loopbaan kon wen.

Tog het Loeb ná afloop van die skof erken dat dinge nie eintlik so maklik vir hom was nie.

“Met die einde in sig het ons met kragstuurprobleme gesukkel en ons moes noodgedwonge die skof teen ʼn slakkepas voltooi. Ek het gesukkel om die kar te stuur en kon in ʼn stadium selfs nie eens die stuurwiel draai nie,” het hy gesê.

“Ja-nee, dit was baie moeilik om die skof klaar te maak. Tog het ons steeds die beste tyd; iets om op trots te wees.”

Nasser Al-Attiyah is steeds die algehele voorloper in sy Suid-Afrikaans geboude Toyota – hy geniet nou ʼn voorsprong van net meer as 18 minute bo Yazeed Al-Rajhi.

“Vandag was ʼn taai uitdaging gewees. Oudergewoonte beloof die tweede week van die Dakar-ren om meer interessant te raak,” het die verdedigende kampioen gesê.

Al-Attiyah het in 2022 met die louere weggejaag nadat hy in 2011, 2015 en in 2019 ook die septer geswaai het.

Suid-Afrika se Henk Lategan is tans in die algehele vyfde plek, terwyl Giniel de Villiers sewende is.

  • Top-uitslae van die vierde skof:
  1. Sebastien Loeb: 04:11:34
  2. Stephane Peterhansel: +13s
  3. Carlos Sainz: +1:50

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.