Marc en Kim wen in Kaapstad

Marc Pritzen vier sy oorwinning. Foto: Tobi Ginsberg.

Marc Pritzen en Kim le Court de Billot is vanjaar se wenners van die Kaapstad-fietstoer nadat hulle in reënerige toestande eerste oor die wenstreep gejaag het.

Die 22-jarige Pritzen – verlede jaar se SA Padfietskampioen – het die roete van 109 km met ʼn tyd van 02:37:55 gewen. Duitsland se Sascha Weber was tweede gevolg deur HB Kruger (’n spesialis bergfietsryer) in die derde plek.

Met die eindstreep in sig het Pritzen se bene die praatwerk gedoen en hy het ’n opwindende jaagsessie gewen.

“Dit is ’n onbeskryflike gevoel – die Kaapstad-fietstoer was nog altyd die groot doelwit gewees. Die reënweer het my eintlik gepas; ek hou daarvan om in nat toestande fiets te ry. Toe ek vanoggend wakker word en die reën sien het ek geweet dit gaan ’n goeie dag wees,” het ’n opgewonde Pritzen gesê.

Kim le Court de Billot. Foto: Chris Hitchcock.

In die vroue-wedren het Le Court de Billot haar titel suksesvol met haar tyd van 02:08:45 verdedig. Sy was in 2018 ook die eerste vrou oor die wenstreep.

“Dit was waarskynlik die opwindendste Kaapstad-fietstoer nóg. Daar was baie kranige fietsryers in my kategorie en hierdie een was ongetwyfeld die soetste om te wen,” het die Mauritiaanse boorling gesê.

Te midde van Covid-19-regulasies was daar steeds meer as 22 000 fietsryers in aksie.

  • Uitslae:

Elite mans:

  1. Marc Pritzen 02:37:55
  2. Sascha Weber
  3. HB Kruger

Elite vroue:

  1. Kim le Court de Billot 02:08:45
  2. Hayley Preen
  3. Candice Lill

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.