Melbourne kry lekker DRS-hupstoot

Die Melbourne Grand Prix spog vanjaar met ’n vierde DRS-strook. Foto: Antonin Vincent/DPPI via AFP.

Toeskouers sal kwalik hul oë kan knip wanneer die F1-aksie op 2 April in Melbourne is; organiseerders beloof immers die vinnigste wedren nóg in dié geweste.

ʼn Vierde DRS-strook sal ongetwyfeld vir bykomende woema sorg en renjaers kan teen ʼn spoed van tot 340 km/h op die Albert Park-baan rondblits.

DRS (oftewel die Drag Reduction System) is ʼn F1-meganisme waar ʼn renmotor se agterste drukvlerk op sekere plekke tydens ʼn ronde oopgemaak kan word om die windweerstand te verminder. Dit word ingestel sodat die motor ʼn hoër topspoed kan bereik; sodoende kan renjaers mekaar ook makliker in dié spesiale stroke verbysteek.

Hulle word dan as’t ware aangemoedig om voet in die hoek te sit.

Andrew Westacott, Australië se Grand Prix-hoof, het die nuus van ʼn vierde DRS-strook bevestig en hy is opgewonde oor wat die verwikkeling vir die deelnemers en toeskouers inhou.

“Dit gaan die vinnigste wedren ooit in Melbourne wees,” was sy raakvatopsomming.

“Nie net sal die motors beter as vantevore wees nie, maar DRS sal ook almal se gemiddelde spoed ʼn aansienlike hupstoot gee. Ons verwag blitsige rondes om die baan.”

Charles Leclerc het verlede jaar die Australiese Grand Prix op ʼn drafstap gewen toe hy meer as 20 sekondes voor Sergio Perez en George Russell klaargemaak het.

Max Verstappen het egter met meganiese probleme gesukkel en hy moes noodgedwonge in die 40ste ronde die handdoek ingooi.

Hoewel Leclerc kort daarna magteloos moes toekyk hoe Verstappen die een wedren ná die ander wen en met die uiteindelike kampioenskaplouere wegjaag, is hy oorgehaal om sy stempel op die komende seisoen af te druk.

“Die uiteindelike doelwit is om die kampioenskaptitel in te oes en ek kan nie wag om weer agter die stuur in te skuif nie. Verlede jaar was inderdaad ʼn tree in die regte rigting, maar ons sal meer bestendig moet wees. Ons sal meer gereeld wedrenne moet wen,” het die Monaco-boorling gesê.

  • Wedrenbepalings:

5 Maart: Bahrein

19 Maart: Saoedi-Arabië

2 April: Australië

16 April: China

30 April: Azerbeidjan

7 Mei: Miami

21 Mei: Emilia Romagna in Imola

28 Mei: Monaco

4 Junie: Spanje

18 Junie: Kanada

2 Julie: Oostenryk

9 Julie: Verenigde Koninkryk

23 Julie: Hongarye

30 Julie: België

27 Augustus: Nederland

3 September: Italië

17 September: Singapoer

24 September: Japan

8 Oktober: Katar

22 Oktober: VSA

29 Oktober: Mexiko

5 November: Brasilië

18 November: Las Vegas

26 November: Abu Dhabi

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Phillip ·

My Pa ook nie Max Verstappen is my Pa se gunsteling Dis al hoekom my Pa die dstv nog aan hou is vir motorsport

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.