Mussolini se agterkleinseun kry sokkerkontrak

Lazio se ondersteuners. Foto: Tiziana Fabi/AFP.

’n Mussolini haal weer koerantopskrifte in Italië.

Die 18-jarige Romano Floriani Mussolini, agterkleinseun van die fascistiese diktator Benito Mussolini, het ’n kontrak met die Lazio-sokkerklub onderteken.

Die verdediger het reeds twee wedstryde vir die klub se junior span gespeel, maar met só ’n van is daar ongetwyfeld ’n tikkie omstredenheid in die lug.

Sommige van Lazio se ondersteuners bestempel hulself as ver-regs en plakkate met fascistiese slagspreuke word gereeld by wedstryde rondgeswaai.

Mauro Bianchessi, die junior span se afrigter, is egter nie veel gepla oor Romano se herkoms óf van nie.

“Ek hou van hom. Hy is weliswaar nie ’n veteraanspeler nie, maar dinge lyk baie belowend,” het Bianchessi gesê.

Hy het bygevoeg dat hy nog nie met Romano se ouers gepraat het nie.

“Die las van sy Mussolini-van? Ek het nog nooit met sy ouers gepraat nie. Al wat vir my saak maak, is of ’n speler dit verdien om te speel. Hy is ’n nederige seun wat nie kla nie.”

Benito Mussolini was van 1922 tot 1943 Italië se eerste minister, asook een van Adolf Hitler se bondgenote in die Tweede Wêreldoorlog.

Hy is in 1945 tereggestel.

Alessandra Mussolini, Romano se ma, is ’n parlementslid. Maar sy wil liefs uit haar seun se sokkerloopbaan bly.

“My seun verkies dit dat daar nie in sy privaat lewe of besluite ingemeng word nie,” het Alessandra gesê.

Die jong Romano is in sy finale skooljaar by die St George British School in Rome.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.