’n Mylpaal-oorwinning vir Medvedev

Daniil Medvedev. Foto: Paul Crock/AFP.

Die Russiese tennisspeler Daniil Medvedev het die 250ste sege van sy loopbaan behaal toe hy met Rinky Hijikata in Mexiko afgereken het.

Medvedev het die wedstryd met 6-4 en 6-3 gewen, maar hy het ná afloop van die kragmeting gesê dat dit beslis nie ’n maklike oorwinning was nie.

Die 26-jarige Moskou-boorling het Wimbledon misgeloop nadat organiseerders van dié ikoniese grasbaantoernooi beslis het dat Russiese en Belarussiese spelers nie toegelaat sal word nie.

“Dit is glad nie so maklik om weer te begin speel nadat jy vir ’n hele ruk langs die baan was nie. Boonop was dit ook my eerste wedstryd op ’n harde baan sedert die Miami-ope in Maart.”

Volgens Medvedev was hy aanvanklik nie eens bewus van die mylpaal-sege nie, maar hy is uitgehonger om nog tennissukses te smaak.

“Dit voel goed om 250 seges agter my naam te hê, maar ek gaan beslis probeer om nog wedstryde te wen.”

Hoewel hy tans die voorste speler op die ATP-ranglys is, meen hy dat iemand anders dalk teen die einde van die jaar die septer kan swaai.

“Ek is maar al te bewus van die feit dat ek omtrent elke toernooi waarin ek speel, moet wen om die titel te behou. Ek dink eerder dat ’n speler soos Rafael Nadal die jaar as die wêreldnommereenspeler kan afsluit.”

Hy het egter beloof om altyd sy beste te gee.

“Ek het nog altyd goed op die harde bane van Noord-Amerika gevaar en ek wil hierdie lopie vir so lank as moontlik uitrek.”

Topspelers op die ATP-ranglys:

  1. Daniil Medvedev: 7 625 punte
  2. Alexander Zverev: 6 850 punte
  3. Rafael Nadal: 6 165 punte
  4. Carlos Alcaraz: 5 035 punte
  5. Stefanos Tsitsipas: 5 000 punte
  6. Novak Djokovic: 4 770 punte
  7. Casper Ruud: 4 685 punte
  8. Andrey Rublev: 3 575 punte
  9. Felix Auger-Aliassime: 3 445 punte
  10. Jannik Sinner: 3 395 punte.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.