Netbalspan vir Malawi-wedstryde gekies

Shadine van der Merwe en Lenize Potgieter. Foto: Twitter.

Dorette Badenhorst en haar afrigterspan het ’n groep van 15 spelers gekies wat Malawi in drie wedstryde by Sun City se Superbowl moet aanvat.

Die aksie begin reeds môreaand en Badenhorst het die moeilike taak gehad om ’n span aan te wys wat oor genoeg ervaring én jong talent beskik.

Wêreldbeker-sterre soos Bongi Msomi en Lenize Potgieter is oudergewoonte deel van die groep, terwyl Sikholiwe Mdletshe en Lefébre Rademan ook kans sal kry om hul staal op die baan te wys.

“Die uiteindelike doelwit is die 2023-Wêreldbeker-netbaltoernooi in Kaapstad en ons moes seker maak dat ons die beste spelers vir hierdie reeks kies. Terselfdertyd is dit ook belangrik dat elke speler in die groep speelkans kry sodat ons kan sien waartoe hulle in staat is,” het Badenhorst gesê.

Die Proteas het al 20 van hul 33 wedstryde teen Malawi gewen. Die vorige keer dat die twee spanne kragte gemeet het, was gedurende verlede jaar se Afrika Netbalbeker in Kaapstad.

Die tuisspan het daardie kragmeting met 56–51 gewen.

Die Malawiërs sal egter allesbehalwe kanonvoer wees. Hulle is sesde op die wêreldranglys (die Proteas is vyfde) en het verlede jaar onder meer met Noord-Ierland by die Wêreldbeker-toernooi in Engeland afgereken.

Maar met verskeie Proteas wat wedstrydtyd in oorsese ligas opgedoen het – onder wie Potgieter en Shadine van der Merwe – kan die Suid-Afrikaners net te veel skietgoed hê.

Proteas: Sigrid Burger, Khanyisa Chawane, Izette Griezel, Romé Joubert, Kamogelo Maseko, Phumza Maweni, Tshina Mdau, Sikholiwe Mdletshe, Bongi Msomi (kaptein), Lenize Potgieter, Lefébre Rademan, Monique Reyneke, Nicola Smith, Shadine van der Merwe en Ine-Mari Venter.

Bepalings:

26 November om 19:00

27 November om 19:00

29 November om 13:00

Al drie wedstryde sal regstreeks op SuperSport uitgesaai word.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Andre ·

Stel nie belang nie.Sport is dood en klaar in SA.Maak en breek soos julle wil.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.