Novak mik na vier op ’n streep

Die tennisaksie op Wimbledon begin môre weer in alle erns. Foto: Twitter.

Wimbledon is deesdae sinoniem met aarbeie, room én Novak Djokovic wat titels wen.

Die topgekeurde Serwiër se veldtog om sy vierde titel op ’n streep te wen begin môre in alle erns wanneer hy teen Suid-Korea se Kwon Soon-Woo speel.

Boonop skeel die feit dat hy nie veel grasbaanvoorbereidingswerk in die aanloop tot die toernooi gedoen het hom ook nie veel nie – in sy laaste twee triomftogte het hy ook nie aan enige oefentoernooi deelgeneem nie.

“Ja, ek het nie veel voorbereidingstoernooie agter die blad nie, maar ek het al voorheen sukses op Wimbledon gesmaak sonder om in enige amptelike toernooi te speel. Ek het al in die verlede gewys dat ek vinnig op verskillende baantipes kan aanpas en daar is geen rede om te twyfel dat ek dit nie weer sal kan doen nie,” het Djokovic gesê.

Die Serwiër se laaste mededingende wedstryd was tydens die kwarteindstryd van die Franse Ope teen Rafael Nadal op die kleibane van Roland-Garros.

Serwië se Novak Djokovic. (Foto: Will Oliver/Pool Photo via AP)

Op ’n kleibaan kan ’n speler sommer so gly-gly sy pad na die bal vind om ’n hou te speel; iets wat nie noodwendig op ’n grasbaan moontlik is nie.

“Jy kan ook op ’n grasbaan gly, maar jy moet baie meer versigtig wees. Terselfdertyd bons die bal ook baie laer en as speler moet jy daarby kan aanpas.”

Indien Djokovic vanjaar weer met die louere sou wegstap, sal dit sy sewende Wimbledon-titel wees. ’n Prestasie wat hom gelyk op die algehele wenlys met Pete Sampras plaas, terwyl hy dan ook binne trefafstand van Roger Federer met sy agt titels is.

“Sampras se eerste sukses op Wimbledon in 1993 was die eerste tenniswedstryd wat ek op televisie gevolg het. Ek sal daarvan hou om weer in ’n eindstryd te speel en hopelik kan ek dan in sy voetspore volg.”

 

 

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.