Onbekende Hongaar stuit Alcaraz in sy spore

Fabian Marozsan het vir Carlos Alcaraz in die Italiaanse Ope uitgeskakel. (Foto: Andreas Solaro/AFP)

Carlos Alcaraz het in Rome sy rieme styfgeloop en dit nogal teen ʼn onbekende Hongaarse speler wat tans 135ste op die amptelike ATP-ranglys is.

Die 23-jarige Fabian Marozsan het gedoen wat Jan-Lennard Struff in Madrid en Stefanos Tsitsipas in Barcelona nie kon regkry nie: Hy het Alcaraz se kleibaanlopie met ʼn goeie oorwinning van 6-3 en 7-6 beëindig.

Om dinge in perspektief te plaas: In aanloop tot die Italiaanse Ope het Marozsan in vyf van sy laaste ses kragmetings die onderspit gedelf, terwyl die Spaanse tennissensasie toe nog net twee wedstryde in 2023 verloor het.

“Ek is baie, baie gelukkig; jy kan my trouens met ʼn veertjie omtik. Hierdie is ʼn wedstryd waarvan ʼn mens net kan droom,” het die jong Hongaar ná afloop van die tweestryd gesê.

Hy het met sy aggressiewe spel uitgeblink en hoewel Alcaraz ʼn valbylstryd in die tweede stel afgedwing het, het Marozsan met ʼn paar ongelooflike wenhoue die stel én die wedstryd beklink.

“Ek het eintlik net probeer om iets spesiaals op die baan te doen; dalk ʼn pot of twee, of miskien ʼn stel te wen. Ek het pas die wêreld se heel beste speler geklop en ek is baie tevrede met my vertoning.”

In ander kragmetings het Andrey Rublev en Daniil Medvedev sterk gestaan teen hul teenstanders.

Rublev het Alejandro Davidovich Fokina met 7-6 en 6-3 geklop, terwyl Medvedev met 3-6, 6-1 en 6-3 met Bernabe Zapata Miralles afgereken het.

Uitslae:

Fabian Marozsan klop Carlos Alcaraz met 6-3 en 7-6

Andrey Rublev klop Alejandro Davidovich Fokina met 7-6 en 6-3

Daniil Medvedev klop Bernabe Zapata Miralles met 3-6, 6-1 en 6-3

Jelena Ostapenko klop Daria Kasatkina met 6-4, 4-6 en 6-0

Elena Rybakina klop Marketa Vondrousova met 6-3 en 6-3

Veronika Kudermetova klop Marie Bouzkova met 6-2 en 6-2

Anhelina Kalinina klop Madison Keys met 2-6, 6-2 en 6-4.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.