‘Ons reis is nog glad nie verby’

(Foto: Twitter/Netball SA)

Ondanks die Proteas se sukkelvertoning in die derde kwart van hul Wêreldbeker-wedstryd teen Jamaika, meen Norma Plummer dat die span weer sal opstaan.

Suid-Afrika speel vandag om 18:00 teen Trinidad en Tobago in Kaapstad.

“Ons het vooraf geweet dat die Jamaika-tweestryd ʼn baie taai uitdaging sou wees – sewe van hul spelers speel in die Superliga en ʼn mens kan dit sien. Ons spelers het goed gedoen, maar daar was ʼn paar foute wat ons duur te staan gekom het. Tog glo ek dat dit dinge is waaraan ons kan werk,” het die Protea-netbalafrigter gesê.

Die 78-jarige Aussie het vroeër haar 100ste sege as ʼn internasionale netbalafrigter gevier en sy is ongetwyfeld oorgehaal om nog wedstryde saam met die Proteas te wen.

“Niemand hou daarvan om wedstryde te verloor nie, maar ons kan beslis lesse daaruit leer. Ons reis is nog glad nie verby nie; daar is nog ʼn paar wedstryde wat op ons wag en enigiets kan nog gebeur.”

ʼn Paar Protea-spelers het in aanloop tot die internasionale netbalskouspel gesê dat hulle vir ʼn podiumplek wil speel.

“Ons sal beter voorbereid vir ons oorblywende wedstryde moet wees as ons verder in die toernooi wil vorder. Dit sal naïef wees om te dink dat dinge makliker gaan word; ons sal die lesse wat ons in die Jamaika-wedstryd geleer het, moet toepas.”

Protea-bepalings vir die komende week:

31 Julie: Suid-Afrika teen Trinidad en Tobago om 18:00

2 Augustus: Suid-Afrika teen Nieu-Seeland om 18:00

3 Augustus: Suid-Afrika teen Uganda om 16:00

Vandag se bepalings:

09:00: Australië teen Skotland en Zimbabwe teen Barbados

11:00: Wallis teen Nieu-Seeland en Fidji teen Malawi

16:00: Jamaika teen Uganda en Sri Lanka teen Singapoer

18:00: Suid-Afrika teen Trinidad en Tobago en Tonga teen Engeland.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.