Potgieter begin saam met groot CrossFit-honde blaf

Ruan Potgieter in aksie. Foto: Verskaf.

Dit is ’n paar dae na die eerste oefensessie van die 2021-weergawe van die wêreldwye CrossFit-ope en ’n mens kyk interessantheidshalwe na die voorlopers.

Jy verwag om name soos Noah Ohlsen, Saxon Panchik en Pat Vellner raak te lees, maar wraggies: Onder die top-10-atlete pryk ’n trotse Afrikaanse van met die Suid-Afrikaanse vlag wat langsaan wapper.

“Ek was baie gemaklik met die bewegings, maar het nooit in my wildste drome gedink dat ek met die beste in die wêreld sou kon saamgesels nie,” het ’n opgewonde Ruan Potgieter vanoggend aan Maroela Media gesê.

In 21.1, soos die oefensessie bekendstaan, moes deelnemers vanuit ’n opstoot-posisie agteruit teen ’n muur uitklim (wall walks) terwyl die springtou (double unders) ook aandag geniet het.

Die hele moegword-storie bou stelselmatig tot ’n crescendo op en ’n mens moes uiteindelik die 605 bewegings binne 15 minute voltooi het.

Potgieter het dit in 11:40 min afgeblits om die gesamentlike negende posisie tussen derduisende deelnemers wêreldwyd te beklee.

“Die wall climbs was nie te moeilik vir my nie. Ek het van jongs af baie op my hande geloop en toertjies gedoen; snaaks genoeg het daardie einste vaardighede my baie in die CrossFit-wêreld gehelp.”

Die 24-jarige atleet het in 2016 vir die eerste keer sy CrossFit-skoene aangetrek en hy word jaarliks net beter.

Foto: Verskaf.

In 2017 het hy die Ope in die 6 534ste plek ter wêreld afgesluit, terwyl hy verlede jaar 702de geëindig het. Vanjaar kan enigiets nog gebeur, maar ’n negende plek om mee te begin is glad nie ’n slegte wegspringplek nie.

Die CrossFit-meesterbrein Dave Castro sal binnekort die oefeninge vir 21.2 bekend maak en hoewel die senuwees knaag, is Potgieter opgewonde oor wat op die atlete wag.

“Ek is altyd ’n senuweewrak tot net voor die kompetisie; dan begin ek op die uiteindelike doelwit te konsentreer. Ek is lekker nuuskierig, ’n mens weet nooit wat Castro gaan aanvang nie!”

Baie CrossFitters sal jou vertel dat esprit de corps onder die lede een van die sportsoort se grootste trekpleisters is. En Potgieter stem heelhartig saam.

Foto: Verskaf.

“Ek hou van die verskeidenheid oefeninge – dit hou ’n mens op jou tone en maak jou gereed vir ’n klomp situasies in die lewe. Maar die vriendskappe wat ek te danke aan CrossFit opgebou het, sal ek vir niks verruil nie.”

Potgieter se pa het hom van jongs af geleer om altyd sy beste met enigiets te gee. Die toppunt van ’n CrossFit-atleet se loopbaan is om eendag by die Spele in die VSA in aksie te wees.

En dít is Ruan Potgieter se uiteindelik droom: Om nie net Spele toe te gaan nie, maar ook om ordentlik daar te presteer.

  • Ope-voorlopers ná 21.1:
  1. Felipe Costa (Argentinië) 10:54
  2. Jacob Wheeler (Australië) 10:59
  3. Jonne Koski (Finland) 11:06
  4. Brian Horwath (VSA) 11:24
  5. Saxon Panchik (VSA) 11:25
  6. Justin Medeiros (VSA) 11:31
  7. Jordi Rossello Knabe (Spanje) 11:32
  8. Spencer Panchik (VSA) 11:37
  9. Ruan Potgieter (Suid-Afrika) en Jay Crouch (Australië) 11:40
  • Hoe Potgieter jaarliks met die Ope verbeter:

2017: 6 534ste ter wêreld en 69ste in Suid-Afrika

2018: 6 183ste ter wêreld en 74ste in Suid-Afrika

2019: 800ste ter wêreld en tiende in Suid-Afrika

2020: 702de ter wêreld en 12de in Suid-Afrika

  • Van sy oefenstatistiek:

Gryphef (snatch): 120 kg

Dooiegewigoptel: 225 kg

Hurksit (front squat): 160 kg

Hurksit (back squat): 190 kg

Hy kan verder as 100 m ononderbroke op sy hande loop.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.