Pretorius, Msomi bring hulde aan Plummer

Norma Plummer. (Foto: Twitter/Netball SA)

Net vóór die Protea-netbalspan se Wêreldbeker-wedstryd teen Nieu-Seeland in Kaapstad het die Kiwi’s se Noeline Taurua erken dat sy maar “skrikkerig” vir Norma Plummer is.

“Norma is ongelooflik. Sy is een van die bestes nóg, ʼn legende, en ek het baie respek vir haar,” het die Nieu-Seelandse netbalafrigter gesê.

ʼn Paar uur later het die Suid-Afrikaners ʼn merkwaardige vertoning gelewer om gelykop teen die sterbelaaide Silwer Varings te speel.

En die toekenning vir die grootste glimlag van die aand het waarskynlik aan die uitgeslape Plummer gegaan; die Australiese netbalghoeroe wie se hart warm vir Suid-Afrika se spelers klop.

Maar die afgelope Sondag se beslissende wedstryd tussen die Proteas en Engeland in Nottingham was die 79-jarige afrigter se laaste kragmeting aan die stuur van die Suid-Afrikaners op die internasionale verhoog.

Suid-Afrika het goed teen die Rose gespeel – die span het die tweede toets met 61–59 beklink en met slegs drie doele in die laaste wedstryd verloor.

“Dit is jammer dat ons nie die reeks gewen het nie, maar ek kan julle verseker dat ons die grondslag vir ʼn sterk Suid-Afrikaanse span gelê het en hopelik kan die groep hierop voortbou,” het Plummer gesê.

Plummer het die Protea-netbalspan ná Sondag se derde wedstryd teen Engeland in Nottinham gegroet. (Foto: Morgan Harlow/Getty Images)

Die oudspeler – sy het Australië ook op die baan verteenwoordig – het twee keer die afrigtersleisels van die Proteas vasgevat.

Tussen 2015 en 2019 het sy toegesien dat die Suid-Afrikaners vierde by die Wêreldbeker in Liverpool klaargemaak het, terwyl die span ook ʼn ranglyssprong of twee op Wêreldnetbal se amptelike punteleer gegee het.

Sy het daarna weer in 2022 deel van die aksie geword en was aan die stuur van die Proteas se Wêreldbeker-veldtog op tuisbodem.

“Ek het die voorreg gehad om saam met die beste spelers in dié Suid-Afrikaanse span te werk. Ek wil hulle voorspoed toewens en bedank, maar dit is tyd dat netbal in Suid-Afrika groei.”

Volgens Karla Pretorius was dit ʼn eer om saam met Plummer te werk.

“Ek ag myself as een van die gelukkige spelers wat die voorreg gehad het om deur Norma Plummer afgerig te word. Ek kon dit skaars glo toe ek hoor dat sy ons kom afrig; sy het al my verwagtings oortref en ons is baie gelukkig om iemand van haar kaliber te hê,” het die Protea-ster gesê.

Kaptein Bongi Msomi het ook hulde aan Plummer gebring.

“Danksy haar harde werk het ons in ons vermoëns op die baan begin glo – ons neem nie meer net deel aan toernooie nie, ons weet ook dat ons goed genoeg is om te wen. Sy het as’t ware ʼn wenkultuur in die span gevestig en ongelooflik baie vir ons almal gedoen. Ek het baie by haar geleer en ek probeer om dié lesse daagliks in my eie lewe toe te pas.”

Uitslae van Suid-Afrika se netbalreeks teen Engeland:

Engeland 54 – 51 Suid-Afrika

Suid-Afrika 61 – 59 Engeland

Engeland 53 – 50 Suid-Afrika

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.