Wát ʼn wedstryd!

Die Proteas het met 48-elk teen Nieu-Seeland gelykop gespeel. (Foto: Twitter/Netball SA)

Nichole Taljaard het ongetwyfeld ys in haar are.

Want met die sekondes wat op die horlosie aftik in die Wêreldbeker-wedstryd tussen die Proteas en die Silwer Varings in Kaapstad het die jong Suid-Afrikaner ʼn berekende kans gevat en die bal met ʼn sierlike boog deur die doelnet gegooi.

Die uiteinde van haar skerpskutter-poging?

Suid-Afrika speel gelykop met 48-elk teen ʼn gedugte Nieu-Seelandse span om die deur na hul podiumplek-doelwit nog ʼn skrefie oop te laat.

Die Kiwi’s is die verdedigende Wêreldkampioen, terwyl hulle die Proteas in hul vorige kragmeting met 20 doele geklop het.

Ja-nee, kyk: ʼn Mens se hart het dalk geglo dat die Suid-Afrikaners met ʼn opskudding vorendag kan kom, maar jou verstand het ʼn meer somber prentjie geskilder.

Tog het die Proteas – saam met hul entoesiastiese ondersteuners langs die baan – toegesien dat drome vlerke kry met hul weier-om-te-gaan-lê-vertoning.

Karla Pretorius en Phumza Maweni verdien ʼn hengse klop op die skouer vir hul verdedigingswerk en hulle het gereeld die Kiwi-aanvalle in die kiem gesmoor, terwyl Bongi Msomi en Izette Griesel ook ʼn barshou gespeel het.

Dit was juis Maweni se bobaas onderskeppoging wat tot Taljaard se doelgooi-treffer gelei het.

As Suid-Afrika nou môre ordentlik met Uganda afreken, terwyl Jamaika met die Silwer Varings klaarspeel, kan die tuisspan nog sake om die silwerware uitspook.

Maar vir eers is dit môre se bekommernis.

Vanaand kan ʼn mens ʼn goeie Protea-vertoning vier:  ʼn Gelykopuitslag het ʼn mens lanklaas so goed laat voel.

Telling ná elke kwart (Proteas se telling eerste):

Eerste kwart: 10-11

Tweede kwart: 21-26

Derde kwart: 34-38

Vierde kwart: 48-48

Proteas: Ine-Marí Venter (doel), Nichole Taljaard (hulpdoel), Izette Griesel (aanvallende vleuel), Bongi Msomi (kaptein en senter), Jeanté Strydom (verdedigende vleuel), Karla Pretorius (hulpdoel) en Phumza Maweni (verdediger). Plaasvervangers: Owethu Ngubane, Elmeré van der Berg, Khanyisa Chawane, Shadine van der Merwe en Nicola Smith.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

12 Kommentare

piet ·

Heel opwindend geeindig maar hulle moes gewen het om’n kans te staan om deur te gaan na die semi’s want hulle het te ver verloor teen Jamaika. Ook ‘n vreemde benoeming vir die “speler van die wedstryd”. Dit was eintlik een van die probleemareas want die suksesvolle doelpogings was maar 83% (vir haar) en maar 79% vir die span. NZ se doelskieters was bevoorbeeld baie beter met ‘n baie beter suksespersentasie. Ek sou eerder die speler van die wedstryd gegee het aan een van die Protea verdedigers wat almal uitstekend was, veral die kaptein wat soos Kolisi ‘n voorbeeld stel met skitterende spel en kapteinskap.

Kokkies ·

Baie trots op die dames, met elke kwart van die wedstryd was hulle agter. Om daai agterstand teen NZ uit te wis, is nie maklik vir enige span nie, maar dames, julle het met vuur en die wil om te wen gespeel. Stekte vir die res van die toernooi. SA staan bank vas agter julle.

Carin ·

Ek ook!! En ek kyk nie eers regtig netbal nie. Hierdie was ongelooflik. Ek kan net GLADNIE verstaan hoe enigeiemand hierdie kommentaar van jou ‘n :( gesiggie gee nie.

Ronél ·

TROTS, TROTS DUISENMAAL TROTS……………SPELER van die Toernooi: Nichole Taljaard!!!!!!!!!!!!!!!!!!!!!!!!!!!!!!!!!!!!!!!!!!!!!!!!!!!!!!!!!!!!!!!!!!!!!!!!!!!!!

Carin ·

Hier is iemand op die blad wat gladnie van jou kommentaar hou nie. En dit kan ek GLADNIE verstaan nie. Want ek is net so trots soos jy. Dit was hartsnaarpluk AMAZING spel tot op die laaste sekond. WOW!!

Boer ·

Ek, wat niks van netbal af weet nie,maa ek het die wedstryd baie geniet. Dit laat my dink toe die bokke ook in 2019 teen NZ gelykop gespeel het, en van daar af gebou en die WB gewen het, ek hoop die dames bou ook so.

Nelmarie ·

Hierdie was ‘n ongelooflike wedstryd, Welgedaan aan elke speler wat sy beste gegee het die hele wedstryd lank. Al gaan ons nie deur nie, dink ek was hierdie wedstryd net so goed soos om ‘n goue medalje te wen.
Well done ons Protea meisies, julle maak ons TROTS!!

Samuel ·

Ongelooflike goeie spel. Veelsgeluk. Een van die min goeie nuusbrokkies.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.