Raducanu klink Williams se doppie

Serena Williams wens vir Emma Raducanu geluk ná hul wedstryd. Foto: Matthew Stockman/Getty Images/AFP

Die 19-jarige Emma Raducanu het net ’n rapsie meer as ’n uur benodig om Serena Williams met 6-4 en 6-0 in Cincinnati te oorrompel.

Die Brit het uiteindelik net een ongedwonge fout in die ganse wedstryd begaan, terwyl die 40-jarige Williams amper 20 foute gemaak het.

“Ek dink dit is baie belangrik om ’n oorwinning te waardeer, want vanjaar het ek beslis geleer dat ’n mens hard daarvoor moet werk,” het die verdedigende Amerikaanse Ope-kampioen gesê.

Volgens Raducanu is sy dankbaar vir die geleentheid om teen Williams te speel. Die Amerikaner – wat 23 groot titels in haar loopbaan gewen het – het vroeër aangedui dat sy haar raket ná die Grand Slam-skouspel in New York gaan wegbêre.

“Serena het ’n wonderlike loopbaan agter die blad en ek is bly dat ek teen haar kon speel. Sy het al soveel inspirerende hoogtes bereik.”

In die mansafdeling het die belowende Carlos Alcaraz met MacKenzie McDonald afgereken. Die eindtelling was 6-3 en 6-2 in die Spanjaard se guns.

“Ek is baie tevrede met vandag se vertoning. My doelwitte is juis om beter onder druk te speel en om my tennis weer te geniet; ek glo ek het dit nou reggekry,” het Alcaraz gesê.

Daniil Medvedev het sy Cincinnati-veldtog ook op ’n wennoot begin toe hy Botic van de Zandschulp met 6-4 en 7-5 geklop het.

Dan is Rafael Nadal ook binnekort in aksie wanneer hy teen Borna Coric kragte meet. Daar is selfs ’n moontlikheid dat die 36-jarige Spanjaard se naam weer eerste op die ATP-ranglys kan pryk.

Die enigste vereiste is dat Nadal die toernooi moet wen, terwyl Medvedev vóór die kwarteindstryde uitgeskakel moet word.

Uitslae:

Nick Kyrgios klop Alejandro Fokina met 7-5 en 6-4

Taylor Fritz klop Sebastian Baez met 6-1 en 6-1

Diego Schwartzman klop Aslan Karatsev met 7-6, 3-6 en 6-2

Daniil Medvedev klop Botic van de Zandschulp met 6-4 en 7-5

Carlos Alcaraz klop MacKenzie McDonald met 6-3 en 6-2

Emma Raducanu klop Serena Williams met 6-4 en 6-0

Caroline Garcia klop Maria Sakkari met 7-6, 6-7 en 6-1

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Niklaas ·

Dalks het die tyd aangebreek dat die veteraan ‘n afrigters pos oorweeg en aanvaar.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.