Raducanu uit Ope-wedloop

Groot-Brittanje se Emma Raducanu. Foto: Martin Keep/AFP.

Emma Raducanu was verlede jaar op die kruin van die golf toe sy die Amerikaanse Ope in New York as ’n 18-jarige speler gewen het.

Die jong Brit sal egter nog ’n bietjie langer vir haar tweede Grand Slam-titel moet wag nadat sy vandag in die tweede ronde van die Australiese Ope teen Danka Kovinic van Montenegro vasgeval het.

Kovinic, wat 98ste op die wêreldranglys is, het die wedstryd met 6-4, 4-6 en 6-3 gewen.

Raducanu het aanvanklik soos ’n vetgesmeerde blits weggetrek om ’n voorsprong van 3-0 in die eerste stel op te bou, maar blase op haar regterhand het haar tennistrein lelik ontspoor.

Nadat sy mediese behandeling ontvang het, het sy met haar afslaanwerk gesukkel en Kovinic kon haar stempel op die wedstryd afdwing.

“Emma is ’n ongelooflike speler en ek is bly dat ek op dieselfde vlak as iemand van haar kaliber kon speel,” het Kovinic gesê nadat sy vir die eerste keer tot die derde ronde van ’n Grand Slam-toernooi deurgedring het.

Dan het Daniil Medvedev gewys dat hy glad nie vir die vurige Australiese brousel van Nick Kyrgios en patriotiese toeskouers hoef terug te staan nie toe hy ’n aksiebelaaide kragmeting met 7-6, 6-4, 4-6 en 6-2 gewen het.

Kyrgios is net so talentvol as wat hy aggressief is en beskik terselfdertyd oor die unieke vermoë om die toeskouers op te sweep.

Medvedev is gereeld uitgejou en hy het sy oorwinning gevier deur met sy hand oor sy skouer te vee; so asof hy as’t ware die skare se vyandige houding afskud.

“Ek het hierheen gekom om te wen en ek is baie bly dat ek dit kon regkry. Dit is nie maklik wanneer jy tussendeur jou afslane uitgejou word nie, maar ’n mens moet in só ’n situasie net kalm bly,” het die 26-jarige Rus gesê.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.